Die News het verlede jaar berig oor ‘n vrou van Noordheuwel wie se jarelange vriend haar op Kersdag 2017 probeer vermoor het.
*Susan het die beskuldigde by die kerk ontmoet. Die twee het na ‘n ruk begin saambly en het uiteindelik vyf jaar lank ‘n blyplek gedeel.
Die verhouding was van die begin af wankelrig en volgens Susan is sy gereeld mishandel.
Op 25 Desember 2017 is dinge egter op die spits gedryf.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/330187/watch-video-footage-of-this-mornings-murder-suicide-emerges/
Nadat die twee reeds van vroeg af gestry het, het Susan op die bank gaan sit om televisie te kyk. Die man het skielik agter haar verskyn met ‘n kombuismes in sy hand.
Sy het hom probeer keer maar het ‘n diep wond aan haar hand opgedoen en 60 persent van die omtrek van haar keel is gesny.
Haar kleinseun het tot haar redding gekom en dit is ‘n wonderwerk dat sy oorleef het.
Vandag kan sy nie haar hand buig of haar nek draai nie, en sy het konstant pyn.
Die man, 78, se saak is op 21 Februarie in die Krugersdorpse Landdroshof hervat. ‘n Kliniese sielkundige wat hom gedurende twee sessies geëvalueer het, het getuig.
Sy het gepraat oor sy kinderlewe en sy streng ouers, asook die dood van sy eerste vrou en sy seun.
Hy het aan die sielkundige vertel dat hy gevoel het dat Susan hom verkleineer en dat sy eenkeer vir hom gesê het om sy “handjies te gaan was” nadat hy gehoes het terwyl hy skottelgoed afgedroog het.
Hy het ook beweer dat sy geen belangstelling in sy familie, byvoorbeeld sy kinders getoon het nie en dat sy hom van hulle geïsoleer het.
Die sielkundige het getuig dat hy volgens haar bevindinge altyd eerlik was en berou gehad het oor dit wat hy gedoen het.
Hy het erken dat hy haar probeer vermoor het maar het beweer dat hy nie die voorval kan onthou nie.
Die vraag is nou wat gaan van die man word.
Hy is reeds bejaard en die sielkundig het getuig dat hy homself nie in die tronk sal kan verdedig nie. Hy is ‘n diabeet en moet die regte medisyne en toesig kry.
Sy meen dat hy nie ‘n gevaar vir die samelewing is nie en dat dit ‘n enkele insident was. Sy het ook bevind dat hy aan depressie en angs ly en dat hy met die regte medikasie gerehabiliteer kan word.
Sy het gevolglik voorgestel dat hy eerder psigiatriese behandeling ondergaan.
Die saak is uitgestel tot vanoggend, 11 Maart.
*Die vrou en man se identiteite is bekend aan die News, maar word vir eers nie openbaar gemaak nie. Susan is dus ‘n skuilnaam.

