Local newsNews

Tienerpark vir Appelpark

'n Nuwe park in Burgershoop gee vir ouer kinders en tieners die geleentheid om uit die huis te kom en aktief te wees sonder dat hul ouers bekommerd hoef te wees oor hul veiligheid.

Dit is vandag net so belangrik soos jare gelede dat kinders ‘n plek moet hê waar hulle saam met maatjies buite kan rondhardloop en speel. Die probleem is egter veiligheid.

Dit is deesdae te gevaarlik om jou kinders toe te laat om die strate saam met hul vriende in te vaar, maak nie saak waar jy woon nie. Hoe maak mens dan?

Branden Mienie durf vol selfvertroue die park se nuwe ‘grind’ balk aan. Foto: Jaco Human.

Die Toekomsvenster-span het so twee jaar gelede ‘n oplossing vir hierdie dilemma gebied en ‘n parkie in Burgershoop gebou waar daar konstant sekuriteit is en waar ‘n ordentlike heining verseker dat die kinders in die parkie veilig sal wees. Hulle het egter gou besef dat daar ‘n onvoorsiene probleem met hierdie oplossing was: Die parkie was net bedoel vir klein kindertjies, en die ouers kinders en tieners het nie ‘n plek gehad waar hulle aktief kon wees nie. Hulle het toe die munisipaliteit gevra of hulle ‘n oop stuk grond oorkant die parkie kon gebruik.

‘n Paar maande later kon hulle uiteindelik die hekke oopmaak vir die ouer kinders wat gereed gestaan het met hul skaatsplanke en krieketkolwe. Die tweede parkie het ‘n ordentlike hindernisbaan, ‘n kolfblad met nette, en ‘n skaatsplankbaan met alles wat skaatsplankryers graag sal wil hê. Die heel beste is dat hierdie parkie stapafstand is van die jonges se huise, en hulle kan enige tyd deur die dag daarvan gebruik maak.

Toekomsvenster sou nie hierdie inisiatief kon uitvoer sonder die hulp van borge nie. Die organisasie gaan ook die publiek se hulp nodig kry met die vele ander projekte wat hulle in Krugersdorp beplan. Volgende op die lys is om verf, plante en sekere toerusting aan die inwoners te verskaf sodat hulle hul huise en die omgewing kan verfraai.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button