Impala-gimnaste skitter op internasionale verhoog
Wion Cordier en Jacques Lasseigne het Suid-Afrika én Impala Trampolienklub trots gemaak met medaljes by die Hans Christiaan Andersen City Games in Odense, Denemarke.
Twee jong gimnaste van Impala Trampolienklub het Suid-Afrika onlangs op die internasionale verhoog verteenwoordig en met medaljes van die Hans Christiaan Andersen City Games in Denemarke teruggekeer.
Wion Cordier en Jacques Lasseigne is vroeër vanjaar vir die 13de Hans Christiaan Andersen City Games vir trampolien gekies ná hul uitstekende vertonings tydens verlede jaar se Nasionale Gimnastiekkampioenskappe.
• Lees ook: Trampolien-talent van Impala mik vir Denemarke
Die kompetisie het van 28 Julie tot 2 Augustus in Odense plaasgevind, waar die twee Krugersdorpers hul staal teen gimnaste van oor die wêreld gewys het.
Linda Coetzer, hoofafrigter van Impala Trampolienklub, sê die klub is ongelooflik trots op die twee seuns se prestasies.
“Dit het besonders goed gegaan met die twee seuns,” sê sy.
Wion het ’n bronsmedalje verower, terwyl Jacques met ’n silwermedalje huis toe gekeer het.
“Hierdie twee seuns gaan nog hoë hoogtes bereik,” sê Coetzer.
