Vakansiebederfie vir bejaardes
Die Krugersdorp Raad vir Bejaardes nooi almal ouer as 50 hartlik uit om saam met hul groepie af te sit na die warm swembaddens van Badplaas toe.
Dit is weer daardie tyd van die jaar wanneer die bejaardes by die Robert Palk-sentrum die geleentheid kry om vir ‘n week lank bederf te word by die Badplaas-vakansieoord in Mpumalanga.
Maar, baie van die bejaardes, waarvan die meeste net op ‘n staatspensioen moet oorleef, sukkel tans om genoeg geld bymekaar te maak vir die vakansie, wat nagenoeg R2 970 per persoon kos. Dit sluit verblyf, alle etes, nagereg en aktiwiteite in. Dit demp egter nie dié groep se opgewondenheid oor hul weeklange wegbreek nie.

Enigiemand ouer as 50 kan saamgaan en hulle vertrek op 14 April.
Die Badplaas-besoek is elke jaar iets waarna die ouer garde baie uitsien, en is elke slag iets wat hulle nie maklik sal vergeet nie.
Vir enige navrae kan Rio by 011 660 6354 gekontak word.

