Die afgelope twee jaar het Rosy van Dyk en haar familie se emosies wipplank gery nadat sy op Kersdag 2017 amper deur haar destydse vriend en huismaat vermoor is.
Na ‘n rusie tussen die twee het Johannes Francois Mans vir Van Dyk met ‘n mes aangeval. Hy het haar hand lelik gesny asook 60 persent van die omtrek van haar keel oopgesny.
Lees verder hier:
https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/375427/opvolg-is-verdagte-te-oud-vir-tronkstraf/
Die 76-jarige Mans het skuldig gepleit op poging tot moord en is op 11 Maart in die Krugersdorpse Landdroshof gevonnis.
Hy is sewe jaar tronkstraf opgelê waarvan vyf jaar opgeskort is en hy twee jaar onder huisarres moet uitdien. Hy moet ook kursusse in woedebestuur en misdaadvoorkoming voltooi. Mans moet vir ‘n jaar lank intensiewe berading kry en mag geen kontak met Van Dyk hê nie.
Die regter het gesê dat daar baie faktore was wat in ag geneem moes word tydens vonnisoplegging.
Mans se sielkundige het voorheen getuig dat hy ‘n moeilike kinderlewe gehad het, dat sy pa baie streng was en hom op een stadium uit die skool gehaal het om op die plaas in die lande te werk.
Nadat daar ingryping was, is Mans terug skool toe. Hy het later jare sy vrou en seun weens kanker verloor en sy tweede huwelik is deur ‘n egskeiding beëindig.
Mans word in Augustus 77 en ly aan insulienafhanklike Tipe 2-diabetes.
Die regter het vertel hoe die hof gehoor het dat Mans en Van Dyk ‘n gespanne verhouding gehad het en gereeld vasgesit het. Op een stadium het Van Dyk vir Mans gevra om te trek maar hy het later weer teruggetrek. Die verhouding het egter nie verbeter nie en Van Dyk het verlede jaar aan die News vertel dat Mans haar glo gereeld mishandel en geslaan het.
Sy het gesê dat sy vir baie jare in vrees geleef het en die wonde uit vrees vir haar familie en vriende probeer wegsteek het.
Die regter het egter gesê dat die hof nie die erns van Mans se dade kan ignoreer nie en dat nie net sy persoonlike omstandighede en verlede in ag geneem kan word nie.
Hy het gesê dat Mans se optrede ongelooflik skokkend en totaal onaanvaarbaar was, en dat die nagevolge van die aanval Van Dyk en haar familie altyd sal bybly.
Hy het verduidelik dat Van Dyk sonder die ingryping van haar kleinseun dood kon gewees het en dat mens net dankbaar kan wees dat sy oorleef het.
Van Dyk het konstant pyn, sy kan steeds nie haar hand heeltemal gebruik of haar nek draai nie, sy lewe in vrees en wil nie meer gereeld uit die huis gaan nie.
Die regter het verduidelik dat sy beslissing die erns van die misdaad, die belange van die gemeenskap en die omstandighede van die klaer moet omvat. Daar moet volgens hom ook gekyk word na die kans dat Mans gerehabiliteer kan word.
Van Dyk het na die vonnisoplegging gesê dat sy nie tevrede is met die vonnis nie; sy en haar familie wou ‘n tronkstraf vir Mans hê. Sy het egter gesê dat sy bly is dat die twee jaar se gewag uiteindelik verby is en dat sy nou met haar lewe kan voortgaan.

