Local newsNews

Vroue van regoor die wêreld brei saam

Vroue van reg oor die wêreld het onlangs hul kragte saamgesnoer om blokkies te brei vir die Hope Knitting-klub se liefdadigheidsprojek.

Elke jaar brei die vroue van die Hope Knitting-klub tot hul vingers seer is, net sodat hulle vir behoeftiges lekker warm winters kan verseker.

Hierdie jaar het die vroue egter ‘n bietjie hulp van buite af gehad – met buite word die buiteland bedoel.

Toe Nadia Wamberal, wat in Australië bly, by haar ma, Magda van der Westhuizen, hoor van die organisasie se projekte, het sy besluit om ‘n handjie by te sit. Daar was egter net een probleem – Nadia het nie geweet hoe om te brei nie.

“Ons was met vakansie in Byron Bay en ek het in die aande met ‘n glasie rooiwyn vir bemoediging met my kinderbreiboek gesit waarin Penelope die Muis vir my stadig maar seker geleer brei het,” het Nadia in ‘n brief vertel.

Van die speelgoed en komberse wat uit die blokkies gemaak is.

Sy het bygevoeg dat sy een aand na haar drie gebreide blokkies gesit en kyk het en toe gewens dat sy sommer ‘n hele span breiers gehad het.

Dit is toe dat sy die idee vir die Square Knitters Society gekry het. Sy het haar vriendinne van regoor die wêreld gevra om te help en kort voor lank het vroue in Londen, New York, Barcelona, Johannesburg en Australië die breinaalde laat kletter.

Elke stukkie het ‘n foto by van die persoon wat die blokkies gebrei het.

Die gebreide blokkies is toe aan die Hope Knitting-klub gepos waar dit in pantoffels, mussies, kombersies, serpe en speelgoed omskep is. Die eindprodukte sal aan behoeftiges uitgedeel word.

Die klublede het gesê dat hulle altyd wol nodig het. Hulle kom elke Saterdag by die Luipaardsvlei-ouetehuis bymekaar, en almal is welkom om te kom saam brei.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button