Nories wys hul talent op die verhoog
Almal was gretig om uit te vind wie die groot wenners van die aand sou wees. Elke groep het alles gegee en hul harte in hul sang gesit, maar net een groep kon die trofee huis toe neem.
Talent … dit is waarvan hierdie leerders se harte en monde oorloop.
Dinsdag- en Woensdagaand, 30 en 31 Julie het dié Nories gewys dat hulle nie net uitblink in akademie en sport nie, maar ook meesters van hul kuns op die verhoog is.
Onderwysers, ouers, oud-Nories en talle skoliere het die saal volgepak, gejuig en selfs vir oomblikke tjoepstil gesit en luister na die kragtige lirieke uit die jongklomp se monde. Graad 8’s tot matrieks het die geleentheid gehad om in groepverband hul sêr-talente teen mekaar ten toon te stel.

Afrikaanse treffers – oud en nuut – het ‘n groot reaksie by die gehoor ontlok. Hulle het gou hul gunstelinggroep gekies en tydens die pouse vir mekaar gesê dat hul gunsteling vir seker sou wen. Maar, die oomblik wat die volgende groep op die verhoog verskyn het, het baie van plan verander oor wie die meeste uitgestaan het.

Teen 9.30nm was die uitslae beskikbaar. Die wenners van die onderafdelings is eerste aangewys. Beste Kostuums het gegaan aan die matriekgroep. Die Graad 9’s het weggestap met die Beste Choreografie-prys, terwyl die Graad 11’s die Beste Kreatiewe Tema-afdeling gewen het. Die Graad 10’s is vir die Beste Musiekverwerking bekroon.
Almal was gretig om uit te vind wie die groot wenners van die aand sou wees. In die algehele derde plek was die Graad 8-groep, gevolg deur die Graad 12’s in die tweede plek. Dit was moeilik om te besluit wie die trofee sou huis toe neem, het Juffrou Mariki de Villiers-Knop erken.

Maar, die gehoor was duidelik tevrede met die finale keuse. Die Graad 9-groep wat as die algehele wenners aangewys is, het dit gevier deur nog ‘n paar liedjies a cappella te sing. Karen Zoid se Vir Jou was melodies sag en het mens laat dink dat daar Afrikaanse engele op die verhoog was. Die lied het oorgevloei na Jay se lewendiger Dis Hoe Ons Rol met meer ritme wat vir groot opwinding by die gehoor gesorg het.

