Elizabeth sorg vir vol mae
Elizabeth wil net seker maak dat haar mensies se mae op 'n Sondag vol is. Onlangs het haar gesondheid amper 'n stokkie voor haar goedhartigheid gesteek.
Reeds vroeg op ‘n Sondagoggend sal jy vir Elizabeth Swanepoel voor die kospotte aantref waar sy vir meer as 200 mense kos voorberei.
“Ek staan vroeg op en dan sit ek onder die gazebo met my groot potte en begin kos maak vir my mense,” het sy verduidelik. Sodra die kos gaar is, skep sy dit in bakkies en vertrek dan op haar roete.
Elizabeth was nog altyd betrokke by liefdadigheidsorganisasies maar het vier jaar gelede besef dat sy iets meer wou doen vir die behoeftiges in haar gemeenskap en het haar eie pad begin stap.
Sy het vertel dat sy in Krugersdorp gebore is en as kind swaar gekry het. Daarom wou sy graag dié help wat minder as sy het.
Op straat en tussen vriende ken mense haar as ‘Moeder’.
Sy deel heel eerste kos uit by die staatstehuis Jack Cotton in Burgershoop. Van daar af kom die Tower of Life-skuiling en die Golden Age Village-tehuis aan die beurt. Sy maak seker dat sy ook by ‘n paar ander plekkies stop waar die haweloses geduldig vir haar wag.
Die kos is warm en dit word met baie liefde gemaak. Waar moontlik vermy sy dit om sojaprodukte te gebruik.
Elizabeth behoort nie aan ‘n organisasie nie en is nie geregistreer nie. Sy doen haar liefdadigheidswerk hoofsaaklik met die donasies wat sy kry.
Sy deel 250 kospakkies op ‘n Sondag uit en maak disse soos paella, macaroni-en-kaas, kerrie-en-rys, en bredies.
Elizabeth en haar familie het onlangs ‘n reuse terugslag gehad.
“Ek het saam met my seun gery toe ek my derde hartaanval kry,” het sy vertel.
Hy het met haar na die privaat hospitaal in Krugersdorp se middedorp gejaag. Aangesien sy nie ‘n mediese fonds het nie, moet sy nou self R54 000 vir die behandeling betaal wat sy daar gekry het.
“Ek wou net huis toe gaan, want wie gaan vir my mensies kos gee as ek nie daar is nie?” het sy gevra.
Elizabeth het gesê dat sy nie daarvan hou om hulp te vra nie en dat die Here altyd vir haar sorg sodat daar iets is om vir haar mensies voor te berei, maar sy is werklik in die nood. Indien daar iemand is wat wil help met kosdonasies of selfs wil bydra tot haar mediese rekeninge, kan hulle haar kontak by 082 750 1170.
Besoek ook gerus die BackaBuddy-blad https://www.backabuddy.co.za/champion/project/elizabeth-swanepoel.

