Nories het weereens hul toneeltalente as deel van die Aardklop Pronk Podium-kompetisie ten toon gestel.
Hoërskool Noordheuwel is een van drie skole waar uitdunrondtes vir dié kompetisie gehou is met die oog op die finale rondte wat tydens die Aardklop-kunstefees van 24 tot 29 September aangebied gaan word.
Hoërskool Noordheuwel het die toneelfees van 15 tot 20 Julie aangebied waaraan hul eie leerders en dié van verskeie ander skole deelgeneem het.

Waterbrief, een van die toneelstukke wat uitgestaan het, handel oor ‘n jong vrou met die naam Nina wat verdrink het. Die stuk volg Nina na haar dood waar sy eerstehands sien hoe haar gesin haar dood ervaar. Waterbrief was ‘n kragtige eenpersoonstuk, “… maar ek sou dit glad nie kon doen sonder my amazing span en regisseur Mariki de Villiers-Knop nie,” het Minke Marais, wat die hoofrol vertolk het, gesê.
‘n Ander stuk was Brug na die Sterre wat deur oud-Norie, Robert Kruger geskryf is. Hy was ook die hoofregisseur en het die jong toneelspelers deur die repetisies gelei. Die produksie het sonder ‘n enkele dikkedensie verloop en elkeen van die spelers het hul reëls glad voorgedra.
Aan die einde van die laaste aand is Noordheuwel se Waterbrief in die eerste plek uit die 23 stukke aangewys, met Hoërskool Hugenote in die tweede plek met hul stuk Voetspore. Robert se Brug na die Sterre het die derde plek behaal, en hy en Nina Smith het een van die twee silwertoekennings verwerf. Nories se Chanté Schoeman en De Wet Meyer het albei sertifikate vir hul uitmuntende pogings ontvang.

