Potte prut terwyl monde water
Braai Pad het hul gewilde potjiekoskompetisie aangebied, en die geregte wat dié dag opgedis is, het die monde laat water.
Dit was ‘n goeie dag vir potjiekos. Of dit nou die middel van winter was of nie – die entoesiasme onder die lot het die koue gou weggejaag.
Die weer was ook vriendeliker as gewoonlik.
Twee maal ‘n jaar bied Braai Pad ‘n potjiekoskompetisie aan waaraan talle mense uit die gemeenskap, sowel as besighede en ander organisasies deelneem.

Elkeen het hul hoekie uitgekies, ‘n ordentlike vuur aan die gang gekry en so die eerste fase van hul gunsteling-, fynbeplande potjies begin. Die kompetisie was straf en die potjiemeesters het hul bes gedoen om hul bure se dwalende oë te blok, alhoewel dit eintlik net ‘n tergery was.
Die braaitange het geklik en kort voor lank het ‘n ordentlike dik sous, verskeie heerlike speserye, vleis en groente – natuurlik ‘n paar aartapples – die potjies gevul. Die geure het die sintuie oorweldig, en selfs verbygaande motoriste wat met oop vensters gery het, het bly terugkyk na waar die geure vandaan gekom het.
Terwyl die potjiemeesters hart en siel in hul potjies gesit het, het die res van die aanwesiges buite na die rugbytoets tussen die Springbokke en die All Blacks gekyk. Daarna het die B To Z Dance Fitness-groep en ander plaaslike kunstenaars die gehoor vermaak.
Die top potjies het dinge nie te maklik gemaak vir die beoordelaars nie.
Dynamic IT se hoender-en-groentepotjie het hulle die derde plek besorg, met Catercorp se lampotjie in die tweede plek. Khosa Klub was uiteindelik die duidelike wenners met hul smullekker Eisbein-potjie, en het weggestap met ‘n R6 000-prys wat vir hul klub se bedrywighede gebruik gaan word.

