Wat is nou lekkerder as ‘n groot partytjie met lekker kos, fantastiese vermaak en vele vriende op jou verjaarsdag?
Laerskool Muldersdrif het vir hul 110de bestaansjaar juis so ‘n lekker partytjie gehou.

Alhoewel die oggend van 20 Julie die begin van ‘n koue front was, het honderde mense tog hul warmste baadjies aangetrek en die dag saam met die skool kom geniet.
Die tema van die partytjie was ‘Karnaval’ en daar was meer as genoeg vir elke lid van die familie om te geniet.

Foto’s: Natasha Pretorius.
Vir die jongklomp was daar verskeie karnavalspeletjies om te speel en pretritte om hulle heeldag besig te hou. Die ouer mense kon die verskeidenheid stalletjies, smulhappies en vermaak geniet wat aangebied is.
Die Mullies Salon het gesorg dat die leerders en besoekers hulself as hul gunstelingsuperheld met kunstige gesigverf kon uitleef, terwyl die dapperste feesgangers die spookhuis besoek het.

Die karnaval is aangebied met die doel om geld in te samel vir die skool se leessentrum, en African Bank het besluit om ook ‘n bietjie hand by te sit. Saam met ‘n tjek van R10 000 wat hulle aan die skool oorhandig het, is altesaam is R143 007 ingesamel om die leessentrum op te gradeer.
Tydens die karnaval het die skool ook baie boeke vir hul Wit Olifanttafel ontvang. Aangesien baie van die boeke nie gebruik is nie, het hulle besluit om dit te skenk aan ‘n welsynsorganisasie wat dit wel kan gebruik.

