Local newsNews

Raad vir ouers en kinders oor aanlynveiligheid

As jy foto's van jouself op jou foon het wat jy nie wil hê die wêreld moet sien nie, delete dit onmiddellik. Jou foon kan gesteel of ge-hack word, dan kan al daardie foto's versprei word.

Die internet is ‘n wonderlike plek vol beloftes, en sosiale media stel ons in staat om deurgaans in kontak met ons geliefdes te bly.

Maar, daar is ‘n donker kant aan sosiale media. Enigiemand, oud of jonk, wat genoeg tyd op Facebook spandeer sal kan getuig van hoe aaklig mense soms kan wees.

Afknouery is nie iets waaroor daar net kommer in skoolgange en op sportvelde moet wees nie. Dit het behoorlik vastrapplek op die internet gekry. Jong kinders beland soms oop oë in strikke en weet nie hoe om daaruit los te kom nie.

Shakira De Castro, Helé coetzee, Rianette Leibowitz, Ullrich Buys en Elaine Trauernicht staan saam teen kuberboelies. Foto: Jaco Human.

Riannette Leibowits van SaveTNet het aan ‘n saal vol Laerskool Kenmare-leerders verduidelik hoe om op te tree indien iemand ‘n kind sou uitvra oor foto’s.

“As iemand vir jou vra vir so ‘n foto of ‘n foto vir jou stuur, dan moet jy dit rapporteer. Sê vir ‘n ouer of ‘n onderwyser, en moenie dit aanstuur nie,” is die advies wat sy gegee het. In haar praatjie het sy verduidelik dat daar soms mense op die internet en sosiale media is wat voorgee dat hulle iemand anders is, en kinders uitlok.

Hierdie persone, het sy gesê, kan vals internetprofiele skep. Deur navorsing oor iemand se aanlynprofiel te doen en na hul foto’s te kyk, kan hulle maklik ‘n verhouding met die kind ontwikkel.

“Nadat ‘n verhouding gebou is, vra iemand vir jou om foto’s te stuur – eers net normale foto’s, en later dalk in jou nagklere, dan in jou onderklere, en so aan,” het Rianette verduidelik. So oorreed mense dikwels vir jong kinders om foto’s te stuur wat hulle nie moet nie deur te maak of hulle 13-jariges is, soos in ‘n video wat Rianette aan die Kennies gewys het.

Die algemene gesprek het gehandel oor kuberboelies in alle vorms. Sy het ook gepraat oor die uitsluiting van vriende op sekere groepe, soos WhatsApp-groepe. “Dit is oukei as jy nie iemand op ‘n groep wil sit nie. Maar, dit is ‘n probleem as jy daardie maatjie laat sleg voel daaroor.”

Daar is ook gepraat oor teistering, soos om mense te dreig dat hulle skade berokken gaan word, en iemand te ontbloot deur foto’s te neem en te versprei waar die persoon iets verkeerd doen.

Die fokus was egter hoofsaaklik op die inligting en foto’s wat van jou of jou kinders die wêreld ingestuur word. “As jy foto’s van jouself op jou foon het wat jy nie wil hê die wêreld moet sien nie, delete dit onmiddellik. Jou foon kan gesteel of ge-hack word, dan kan al daardie foto’s versprei word. Hou ook in gedagte dat jy toestemming aan apps gee om toegang tot jou foon se media te verkry,” het Rianette laastens gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button