#WeRead — Dié outeur is net 10 jaar oud
#NasionaleBoekWeek — Chanel wou wys dat mens nooit te jonk is om 'n skrywer van formaat te word nie.
Lees vir die liefde daarvan is toe nie so skaars onder die jongklomp as wat mens dikwels dink nie. Inteendeel, dit blyk dat ‘n leeskultuur besig is om onder die jeug te ontwikkel. Daar is gevolglik elke dag ‘n vraag na goeie boeke en briljante skrywers wat weet hoe om met sinne te speel en emosie uit te lok met hul woorde. Daar is nie ‘n beter tyd om te begin skryf as juis nou nie.
Laerskool Krugersdorp-Noord se eie Chanel Harmse wou wys dat mens nooit te jonk is om ‘n skrywer van formaat te word nie. Sy het haar eerste kortverhaal, Ouma Koekie se Geheim, verlede jaar in Graad 3 neergepen.
Noordskool het toe vir Chanel ingeskryf vir ‘n kreatiewe skryfkunskompetisie wat die Gauteng-Wes Onderwysdistrik verlede jaar aangebied het.
Nadat sy haar storie aan die gehoor en beoordelaars voorgelees het, het sy uitstekende terugvoer en goeie punte ontvang.
Ouma Koekie se Geheim, wat ontstaan het as ‘n handgeskrewe manuskrip op A4-papier met ‘n ingekleurde voorblad, is binne ‘n jaar omskep in ‘n professioneel verwerkte kortverhaal wat een van dié is wat in ‘n storieboek ingesluit is wat deur die Departement van Onderwys uitgegee is. Die kortverhale in die boek, Stories for the Rainbow Nation, is deur skoolkinders vanuit verskeie agtergronde geskryf.
Chanel oorweeg alreeds ‘n opvolg en dink solank waaroor sy volgende kan skryf.

