Isaiah se stryd nog nie verby nie
keloid litteken, brand, verf verdunners, Isaiah Kock.
Isaiah Koch, nou 12 jaar oud, het vir ‘n jaar lank ‘n langmoutrui gedra omdat hy nie wou hê mense moes hom uitvra oor die merke op sy arm nie.
Die storie agter die merke is eintlik een van hartseer en baie pyn.
In 2016, toe Isaiah agt was, het hy sy ma en ouma verloor. Sy pa het die betrokke dag besluit om ‘n bietjie te gaan lê terwyl mense wat daar gekuier het, ‘n ogie sou hou oor Isaiah en sy sussie Chanté was toe ses was.
Die twee van hulle het verfverdunner in die hande gekry en terwyl Chanté die glasie met die verfverdunner vasgehou het, het Isaiah dit aan die brand gesteek. Chanté het vir die vlamme geskrik en sy het die glasie in Isaiah se rigting gegooi.
Hy het derdegraadse brandwonde aan sy regterarm en ‘n gedeelte van sy rug opgedoen. Sy pa het hom drie maande lank, elke tweede dag hospitaal toe geneem sodat die wonde skoongemaak en versorg kon word.
Al is die wonde nou net letsels, lyk dit of Isaiah se herstelpad nog lank is. Sy familie het gedink dat die letsels mettertyd dunner sou word en verdwyn, maar die litteken bly baie groot.
Die tipe litteken wat Isaiah het, word keloïede genoem en is besonder dik. Dit vorm waar die vel reeds na ‘n besering genees het en kan baie groter word as wat die oorspronklike besering was.
Soos wat Isaiah ouer word, sal sy vel begin styftrek en daar is selfs ‘n moontlikheid dat hy later nie sy arm sal kan buig nie.
Die familie het ‘n arbeidsterapeut gaan raadpleeg en daar is ‘n vel- en littekenkliniek waar kinders jonger as 12 gratis behandeling kan kry. Die familie het egter steeds fondse nodig vir die arbeidsterapeut, spesiale medisyne en ‘n masjien wat sal help dat die litteken en die vel genees.
Indien jy die familie wil help, skakel gerus vir Tarra by 074 899 8152.
Isaiah en sy familie bly hoop dat hy volkome sal herstel, en is dankbaar dat die ongeluk nie erger gevolge gehad het nie.

