WATCH: Adoons-fees was beslis een vir die boeke
Die NG Kerk Magaliesburg het die afgelope naweek hul Adoons Landboufees aangebied en dit was 'n reuse sukses.
Die gemeente en vriende van die NG Kerk Magaliesburg weet beslis hoe om fees te hou.Daar was nie ‘n tekort aan kos, vermaak of vriendelikheid op Saterdag, 7 September by die Adoons Landboufees nie wat by Sleepy River-kampterrein in Magaliesburg aangebied is.
Dié jaar is daar ook vir besoekers twee vertonings van ‘n kort toneelstuk aangebied. Die stuk van 20 minute lank, getiteld Onthou, het gehandel oor twee vroue wat Alzheimer-siekte ontwikkel. Die toneelstuk is geskryf deur Danielle Steynvaardt en Zandri Dry, wat ook die spelleiding behartig het.

Nog ‘n opwindende oomblik in die dag was die kameelresies. Die kerk het borge gevra om elkeen ‘n kameel te borg, en die borge het dan hul eie ‘joggie’ gekies wat op hul kamele gery het. Christoff Vos was die wenner van die kameelresies. “My boude is seer maar dit was lekker,” het hy na die resies gesê. Hy het ook ‘n trofee gewen.
Die publiek kon deur die loop van die dag self op die kamele ry.
Verder was daar nie net hope stalletjies wat allerlei smullekker kos en pragtige handgemaakte items verkoop het nie, daar was ook ‘n verfbalbaan en ‘n kinderboerdery vir die jongklomp.
Dit was beslis ‘n lekker dag in die buitelug wat die hele familie kon geniet.

Die kerk wil ook net graag hul borge bedank. Elke borg het R1 500 betaal, die borge was A2Z Thatching, Hillside Motors, Niemen Stoet, Magaliesburg Stationers, Magalies River Lodge en Magalies Liquor Wholesaler — Tops asook die kameel borge.

