Kosmos Angels wil Kersfees spesiaal maak – en jy kan help
Vir die vierde jaar in 'n ry wil die Kosmos Angels pakkies bymekaarsit om op Kersdag vir haweloses uit te deel, maar hulle kort die gemeenskap se hulp.
Die Kosmos Angels is reeds hard aan die werk sodat hulle oor ‘n paar maande hoop kan bring aan honderde haweloses.
Dagboek vir ‘n ouer, ‘n Facebook-ondersteuningsgroep vir ouers en mense wat met verslawing leef, is deel van die Kosmos Angels se oorspronklike Facebook-groep. Hulle onderneem projekte om geld in te samel en sodoende mense te help om in ‘n rehabilitasiesentrum opgeneem te word.
Vier jaar gelede het hulle met die Kersboksprojek begin en elke jaar maak hulle skoenbokse of rugsakke vol en deel dit dan uit. Die bokse word gevul met items wat vir hawelose mense baie sal beteken en hulle kan help in hul daaglikse lewe. Die bokse dien as ‘n baken van hoop vir dié vir wie die toekoms nie altyd so blink lyk nie.
Hierdie jaar het hulle besluit om rugsakke te gebruik en wil hulle graag op Kersdag meer as 200 van hierdie rugsakke uitdeel. Die plan is om ‘n bord lekker warm kos en rugsakke op Kersdag in Krugersdorp, Randfontein en Westonaria uit te deel.
Die organisasie het egter die gemeenskap se hulp nodig om hierdie feestyd spesiaal te maak vir dié in die gemeenskap wat dit nie altyd maklik het nie.
Hulle benodig rugsakke – dit kan sommer ou rugsakke wees wat net by die huis rondlê – en klein swart hardebandboekies en ‘n pen. Hulle vra dat indien iemand ‘n boekie skenk, hulle Jeremia 29 vers 11 in die boekie sal skryf.
Hulle wil graag ook tandeborsels, tandepasta, seep, ‘n waslappie, sjampoe, lyfroom, ‘n klein houertjie Vaseline, Lip-Ice of Zambuk-salf en lekkerruikgoed (die aanroltipe) in die boksie sit.
Hulle wil ook probeer om ‘n hoed, ‘n plastiese reënjas, ‘n herwinbare waterbottel en niebederfbare kos soos Cup-a-Soup, 2 Minute Noodles, Drink O Pop, koekies of lekkers in te sit.
Die publiek word uitgenooi om op Kersdag saam met dié organisasie te gaan om hierdie rugsakke uit te deel. Indien jy wil help met die rugsakke kan Susan Snyman by 072 668 4093 of Julie Nortje by 082 803 4891 of Desire Steyn by 066 587 8227 geskakel word.

