Local newsNews

Popup bied hoop vir werkloses

Die Popup-program is onlangs in Krugersdorp bekendgestel. Die program help werklose mense al langer as 20 jaar om hul vaardighede te verbeter en werk te kry.

Wanneer jy ‘n laagtepunt bereik het, lyk die pad vorentoe soms donker. Dit is waar die People Upliftment Programme oftewel Popup inkom.

Popup, wat in Augustus in Krugersdorp geloods is, is ‘n program wat ‘n holistiese benadering tot die opheffing van minderbevoorregtes volg.

Hul vaardigheids- en ontwikkelingsprogramme is daarop gemik om werklose mense van vaardighede te voorsien wat hulle in ‘n beter posisie sal plaas om ‘n werk te kry of hul eie besigheid te begin.

Die droom om ‘n Popup-tak aan die Wes-Rand oop te maak, het drie jaar gelede ontstaan en het so twee jaar gelede begin ontwikkel, het Marius Keyter, ‘n gemeenteleier by AGS Krugersdorp-Sentraal vertel.

Hy het verduidelik dat hulle besef het dat hulle as kerk ‘n groter verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap gehad het en dat hulle meer as geestelike leiding moes bied.

Popup bestaan nou reeds meer as 20 jaar in Suid-Afrika, en AGS Sentraal het bloot die suksesvolle program na die Wes-Rand toe gebring.

Dit begin met ‘n vaardigheidskursus van drie tot vier weke lank, gevolg deur een week se opleiding in werksplekgereedheid. Daarna moet die deelnemers eers ‘n week lank deur middel van gemeenskapsdiens aan die gemeenskap teruggee.

Deelnemers word dan geëvalueer om te sien hoe gemaklik hulle is met die Engelse taal, en deelnemers wie se taalvaardigheid nie op standaard is nie, word dan gestuur vir basiese onderwys vir volwassenes. Deelnemers wat op standaard is, begin dan met die verskillende vaardigheidsprogramme.

Rekenaarvaardighede, hoe om verswakte mense te versorg, en kinderontwikkeling is van die kursusse wat hulle aanbied. Alle kursusse word ook deur geakkrediteerde persone aangebied.

Volgens Wayne Eksteen van Popup, identifiseer hulle ook persone vir verdere opleiding sodat hulle dalk hul eie besighede kan begin. So ‘n kursus duur een tot twee jaar, en sluit in besigheidsbestuur en ander vaardighede wat nodig is.

Daar is net drie vereistes indien iemand aan die program wil deelneem. Die persoon moet tussen 18 en 45 jaar oud wees, moet tans werkloos wees en voorheen geen tersiêre onderrig ontvang het nie.

Die registrasie vir die program is R150 per persoon en dit word gebruik vir die eksterne Engelse assessering.

Popup nooi graag besighede in die omgewing om met hulle hande te vat. Omdat die kursus gratis is, het hulle korporatiewe donateurs nodig om hulle te help borg en om dalk van hierdie mense in te neem en vir hulle ervaring in die werkplek te gee.

Nog ‘n positiewe aspek van die program, het Wayne verduidelik, is dat tussen 60 en 70 persent van die persone wat aan die program deelneem, hul harte vir die Here gee.

Vir meer inligting indien jy belangstel, skakel vir Wayne by 072 152 1846.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button