Terwyl munisipaliteite aan die Wes-Rand, wat Merafong, Rand West City en Mogale City insluit, weens die regering se finansiële plundering en wanbestuur tuimel, word inwoners van dié dorpe verswelg deur riool wat in strate, mangate en watersuiweringswerke uitborrel, het die plaaslike Vryheidsfront Plus-tak in ‘n mediaverklaring gesê.
Die VF Plus het op versoek van woedende inwoners van Randfontein en omgewing die Randfontein-watersuiweringswerke gaan besoek.
Also Read:
https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/287002/riool-stoot-op-in-agterplaas/
Riool stroom vryelik in die Tweelopie- en Bloubankspruit in, dit terwyl veral groenteboere die spruite se water vir besproeiing gebruik.
“Die bankrot Wes-Rand Distriksmunisipaliteit het reeds sy laaste stuiptrekkings gegee met werkers wat gereeld nie hul salarisse ontvang nie. Belangrike munisipale kwessies soos gesondheid, omgewingsbewaring en gemeenskapsveiligheid wat distriksaangeleenthede is, bly agterweë,” het VF Plus-raadslid Amanda de Lange in die verklaring gesê.
“Dit is duidelik dat die drie weke lange munisipale staking sy tol geëis het en met werkers se terugkeer is daar geen oënskynlike verbetering nie.”
Sy het genoem dat die situasie vir die VF Plus onaanvaarbaar is en dat die party nie die kwessie daar gaan laat nie. Die voortslepende en knaende betogings en vandalistiese stakings deur munisipale werkers van die Rand West City Plaaslike Munisipaliteit is en bly die verantwoordelikheid van die munisipale bestuurder en die regerende party op plaaslike en provinsiale vlak.
Die VF Plus het die LUR vir samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (CoGTA), Lebogang Maile en die LUR vir gesondheid, dr Bandile Masuku, gevra om in te gryp en die situasie te beredder.
Die woordvoerder van die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit is ook genader vir kommentaar op De Lange se stellings.

