Local newsNews

Gemeenskap help om Joshua te groet

Hulle sê 'n lewe hoef nie lank te wees om merkwaardig te wees nie. Die verlies van baba Joshua het 'n gemeenskap laat saamstaan.

Op 15 Oktober kom mense elke jaar regoor die wêreld bymekaar ter nagedagtenis aan en bewusmaking van die babas wat tydens en net na swangerskap gesterf het.

Die dag staan bekend as die Bewusmakingsdag vir Swangerskap- en Babasverlies (Pregnancy and Infant Loss Awareness Day).

Vir Nicky Weyer en Donovan du Randt van Krugersdorp-Wes was dit onlangs ‘n realiteit. Na die verlies van hul baba, die 43-dae-oue Joshua du Randt, het die gemeenskap vinnig ingespring om die familie te help om Joshua op ‘n gespaste wyse ter ruste te lê.

Joshua is op 18 Augustus in die Dr Yusuf Dadoo Hospitaal gebore. Hy en sy ma, Nicky is gou ontslaan en is huis toe. Vyf dae later was hy en sy ouers terug by die hospitaal, waar hulle gehoor het dat Joshua se derms nie heeltemal gevorm het nie.

Baba Joshua du Randt toe hy in die hospitaal was.
Foto: Verksaf.

Hulle is na die Nelson Mandela Kinderhospitaal verwys en volgens Nicky het die hospitaal baie mooi na hom gekyk. Joshua het toe ‘n kolostomiesakkie gekry, maar net toe hulle gedink het alles gaan uitwerk, het dokters ontdek dat een van die are na sy hartjie ook nie reg ontwikkel het nie.

Op twee weke oud het baba Joshua sy eerste hartoperasie ondergaan. Hulle het vir hom ‘n buisie ingesit om vloeistofvloei te bewerkstellig en vir hom bloedverdunners voorgeskryf.

Sy bloed was egter te dik en die buisie het verstop geraak. Die dokters het vir Donovan en Nicky laat weet dat hulle nog ‘n hartoperasie sou moes doen. Klein Joshua is egter op 1 Oktober oorlede voordat dié operasie uitgevoer kon word.

Nicky het vertel dat daar dae was wat Joshua vir haar beter gelyk het, maar dat hy baie klein was. Hy het net 2,3kg by geboorte geweeg en 2,7kg toe hy oorlede is.

Nicky en Donovan het nie die finansies gehad om vir Joshua ‘n begrafnis te reël nie, maar dit het nie saak gemaak nie, want die gemeenskap het dadelik hul hulp begin aanbied.

Concord-begrafnisdienste het die begrafnis teen ‘n minimale bedrag vir die familie behartig, en die gemeenskap het ook geld inbetaal om hulle te help.

Fairwell Tombstones het ‘n grafsteen geborg en kos voorsien vir die byeenkoms na die begrafnis.

Donovan en Nicky sê graag baie dankie aan Hester Foxcroft en Darrell Roberts wat alles gekoördineer het, en vir Rina en Piet Joubert vir hul bystand.

Klein Joshua is op 11 Oktober vanuit die Tower of Life-kerk begrawe en die spesiale diens is deur JJ van Niekerk van die Livesaver Foundation waargeneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button