Local newsNews

Edelkleur bevorder kuns en kultuur

'n Groep kunstenaars het besluit om saam te staan, by mekaar te leer en saam kuns in die dorp te bevorder deur gereeld uitstallings van plaaslike kunstenaars se werke te hou.

Edelkleur het onlangs ‘n uitstalling van al hul stigterslede se werke by die De Villa Gastehuis gehou.

Dit was ‘n aand van klassieke kultuur en styl.

Annelise Kriek het nagenoeg ‘n jaar lank met die gedagte gespeel om ‘n organisasie vir kunstenaars in die dorp op die been te bring om kuns en kultuur te bevorder.

Leon Krog is trots op die uitstalling. Foto: Jaco Human.

Nadat sy ‘n plasing op Facebook gedoen het om mense te betrek, het dominee Kobus van Tonder met haar kontak gemaak, en hulle was die eerste twee lede van dié nuwe organisasie. Kort daarna het ander kunstenaars by hulle aangesluit en hulle het begin beplan aan hul eerste kunsuitstalling.

Met hul eerste uitstalling is ‘n groot aantal kunswerke buite teen die mure en op die loopvlak by die gastehuis te toon gestel, waar talle kunsaanhangers dit met aandag kon bestudeer.

Thinus Lombard vertoon sy harde werk. Foto: Jaco Human.

Die aand was ‘n sukses vir die kunstenaars en die besoekers wat diepgaande gesprekke oor skilderpraktyke kon voer.

Julie Groenewald se kunswerke het gedurende die aand baie aandag geniet.

Kobus het geen skilderkunsopleiding ontvang nie, maar dit het hom nog nooit gekeer om die kwas op te neem nie.

Serita van Heerden, Thinus Lombard, Annelise Kriek, Julie Groenewald, dominee Kobus van Tonder en Leon Krog by van hul kunswerke. Foto: Jaco Human.

Leon Krog het sy liefde vir kuns al vroeg ontwikkel toe hy as kind hoofsaaklik karre geteken het. Na sy universiteitsopleiding het hy by die weermag aangesluit met die hoop om ‘n vlieënier te word. Hy is uiteindelik in ‘n kunstenaarspos in die weermag aangestel, en het gehelp om die weermag se beeld deur sy werke uit te dra.

Serita van Heerden het al baie tyd daaraan gewy om haar talente te ontwikkel, en het selfs onder kunstenaars soos die gerespekteerde Pieter Millard studeer.

Edelkleur beplan om gereeld uitstalling te hou en meer kunstenaars in die groep in te sluit. Hulle wil graag ‘n groot uitstalling met die Randse Simfonie-orkes vir later in die jaar reël.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button