‘n Skoenboks vol bederf vir bejaardes dié Kersfees
Hierdie Kersfees kan jy 'n bejaarde se dag baie spesiaal maak deur net 'n skoenboks vol te maak en 'n briefie te skryf. Hoe? Lees hier ...
Almal hou daarvan om iets spesiaal vir Kersfees te kry. Net so wil die Emmanuel Tehuis nie net hul bejaardes nie, maar ander ook dié Kersfees bederf.
Volgens Febe von Wielligh van die tehuis sal hulle graag 250 vol bokse bymekaar wil maak. Dan kan hulle vir die bejaardes by Emmanuel en ander behoeftige bejaardes in die dorp ook skoenboksgeskenke gee.

Hulle vra die gemeenskap se hulp om hierdie skoenbokse vol te maak. Daar is ‘n lys beskikbaar van die produkte wat in die bokse geplaas moet word, en die skenker word ook gevra om ‘n briefie aan die ouma of oupa te skryf wat die boks gaan ontvang. Die vol boks kan dan by die tehuis afgelewer word en sal later uitgedeel word.
In ‘n oumaskoenboks wil hulle graag twee wit lyfsepies, ‘n wit lyfroom, ‘n waslap, ‘n tandeborsel, ‘n buisie tandepasta, ‘n blikkie spuitgoed, aanroldeodorant, sjampoe, opknapper, Vaseline, Zambuk-salf, Vicks, sneesdoekies en ‘n sjokolade plaas.
Hulle wil die oupabokse volmaak met dieselfde items as vir die oumas, maar met ‘n skeermessie daarby.
Vir meer inligting, kontak gerus vir Febe by 082 771 2047 of laai jou skoenboks voor 30 Oktober by die Emannuel Tehuis by De Villiersstraat 3 af.

