Vir sommige leerders is die kurrikulum wat in klaskamers gevolg word net nie genoeg nie. Hulle kort dikwels addisionele uitdagings en stimulering.
So het Laerskool Kenmare se verrykingsprogram ontstaan om iets ekstra vir hul topleerders te bied.
Bogemiddelde leerders uit elke graad word genooi om aan die verrykingskool deel te neem waar hulle leer oor dinge soos dinosourusse, organiese boerdery, biologie en anatonomie, kaleidoskope, hoe om sonkragoonde te bou en selfs hoe om te bak en te kook.
Een van die verrykingskool se groot projekte is ‘n groentetuin op die skool se gronde. Groot kratte is in netjiese rye gepak en self deur die leerlinge met grond, kunsmis en die perfekte aantal sade gevul. Vandaar moes elke leerder sy eie tuin onderhou, dit elke dag water gee en die groente en vrugte pluk wanneer dit gereed is. Vandag is die tuin mooi groen en elke leerders kon ‘n paar van hul eie aarbeie pluk en eet. ‘n Algemene kruietuin waaraan die leerders as ‘n span moet werk, leer hulle oor verskillende kruie en hul gebruike.
Die leerders gaan ook gereeld op uitstappies na plase, historiese gebiede, en so meer. Binnekort sal hulle ook vir ‘n klompie dae ‘n veldskool bywoon om meer te leer van die natuur.
“Daar word in alle skole baie aandag gegee aan kinders wat sukkel met hulle skoolwerk. Maar, dit is net so belangrik om spesiale aandag te gee aan die bogemiddelde kinders, omdat hulle iets ekstra nodig het in hul studies,” het die programorganiseerder, juffrou Elsabe Bell verduidelik.
Die skool nooi ook ander skole uit om deel te neem aan hierdie projek.

