Tannie Santjie se droom by Oppistal bewaarheid
Elke Dinsdagoggend word ‘n program vir die spesiale mense van Môreglans aangebied en tannie Santjie wou nog altyd in die media verskyn.
Sedert September vat Môreglans Ouetehuis en Oppistal hande om ‘n perdeterapieprogram vir agt bejaardes aan te bied wat met dementia saamleef.
Elke Dinsdagoggend word ‘n program by hierdie volwaardige ontspannings- en rehabilitasiesentrum in die Sterkfontein Country Estates vir die spesiale mense van Môreglans aangebied.
‘n Sielkundige van Roosmaryn, Carlé Geldenhuys, evalueer die projek deurlopend.
“Ons was baie verbaas oor die aantal vrywilligers wat intussen kom hand bysit het met die projek. Almal betrokke by die projek word so geseën. Daar is al meer vrywilligers as bejaardes,” het Yolanda Steyn van Oppistal gesê.
Die doel van die terapie is om die dementiaproses te vertraag, om die identiteit en persoonlikheid van die bejaardes wat met die toestand saamleef, te vertroetel, en sensoriese stimulasie te bied.
‘n Program van 12 weke is saamgestel waartydens verskillende aktiwiteite met perde ingespan word om die mense te stimuleer. Elke week word tyd ingeruim vir geestelike verryking en die bejaardes ontvang weekliks ‘n item wat by die tema pas om in hul ‘onthouboksie’ te plaas.
Yolanda noem dat die perde op die eerste dag van die program die bejaardes gekies het waarmee hulle wou werk Die bejaardes kry daarna altyd dieselfde perde vir hul terapie. Perde aanvaar mense onvoorwaardelik en het ongelooflike terapeutiese waarde.
“Ons eerste tema was musiek en ritme. Ons het geleer dat liefde en musiek die laaste twee fasette is wat verlore gaan by bejaardes wat met dementia saamleef. Musiek vorm ‘n integrale komponent van die program. Dit is vir ons heerlik as die bejaardes saamsing en hulle perde se name kan onthou.
Die perde word gemasseer en gebad. Daar word ‘Cowboys and Indians’ gespeel, perdekoekies gebak, boeresport gehou, plantjies geplant en dies meer. Die dae is prettig, vol lag en plesier.
“Ons probeer om van die bejaardes se drome te bewaarheid. Ons het twee weke gelede ‘n roomyskarretjie gereël om hulle te kom besoek. Almal se oë was vol trane toe ons die onthou in hulle oë sien en hulle dit ervaar – veral Oom Fred wat mal is oor roomys.”
Só was dit ook tannie Santjie Botha se droom om in die koerant te verskyn. Groot was haar verbasing toe News-joernalis Jaco Human met sy kamera voor haar gestaan het.
“Baie dankie dat julle haar droom bewaarheid. Ons staan nog steeds verstom oor die vordering wat die bejaardes maak. Ons wil graag ons dank uitspreek aan Leon Mans van Apcan Sekuriteit wat dit vir ons moontlik maak om die projek te finansier, en almal wat betrokke is. Julle is engele uit die hemel.”
Indien daar instansies is wat by die projek betrokke wil raak, kan hulle Yolanda by 082 829 9003 skakel.

