NewsSchools

Mullies wen Sing in Harmonie

Dit is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, gemeet aan televisieblootstelling, pryspakkette en aantal inskrywings.

Laerskool Mulderdrif het onlangs Gauteng se naam hoog gehou toe hulle seniorkoor die informele afdeling van die immergewilde Sing in Harmonie-skolekoorkompetisie gewen het.

Meer as 250 skoolkore van oor die land heen het vanjaar aan dié kompetisie deelgeneem. Uiteindelik het 18 kore dit met mekaar uitgespook in die finaal wat Sondagaand, 17 November gehou is.

Mareli Roodt, die Laerskool Mulderdrif-koor se dirigent, het gesê dit is die vierde jaar dat die skool se seniorkoor, wat uit leerders van Graad 4 tot Graad 7 bestaan, aan dié grootste koorkompetisie in die land deelneem.

Laerskool Muldersdrif se koor het gewen! Koordirigent Mareli Roodt hou die wentrofee vas.

“In die eerste jaar is ons koor as die beste nuweling in Sing in Harmonie aangewys, voorverlede jaar het ons koor algeheel derde geëindig, en nou het ons die nasionale finaal van die senior informele afdeling gewen. Ek is ongelooflik trots op dié kinders. Ons het as ’n span hande gevat en saam hoog gevlieg. Dis só ‘n groot voorreg.”

Mareli het vertel sy het vier jaar gelede die skoolkoor geërf.

“Dit was vir my ’n ontdekkingsreis. ’n Hele nuwe wêreld het oopgegaan. Sing in Harmonie skep nie net ’n ongelooflike geleentheid vir skoolkore nie, maar ook vir beginnerkoordirigente.”

Laerskool Panorama in Welgelegen het die juniorafdeling van dié kompetisie gewen en Laerskool Monte Vista het die formele kategorie in die seniorafdeling gewen.

Sing in Harmonie is Anthonie Bougas van Supersterre-faam se breinkind.

Dit is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, gemeet aan televisieblootstelling, pryspakkette en aantal inskrywings.

Anthonie is die aanbieder, skrywer en vervaardiger van dié gesogte jaarlikse kompetisie, waar honderde kore van laerskole en hoërskole oor die land heen met mekaar meeding.

Anthonie het die finaal as ‘huilmooi’ beskryf.

“Die wenkore het ons almal in trane gehad. Hulle het geskitter. Die standaard was vanjaar ongelooflik hoog en die kompetisie het geweldig gegroei. Ek dink Sing in Harmonie skep ’n nuwe platform vir kore regoor ons land,” het Anthonie vertel.

Sing in Harmonie word reeds vir die sesde jaar aangebied en sedert 2017 word die kompetisie met trots deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge as kultuurvennoot ondersteun.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button