Die vakansie was ‘n lang en stresvolle een vir laasjaar se matrieks terwyl hulle moes wag om te hoor van hul finale uitslae. ‘n Groep vriende het by hul gewese skool se hek gestaan en gesels, en uiteindelik genoem hoe verlig hulle is dat dit nou verby is. ‘n Hele klompie kon hul opgewondenheid net nie in hou die oggend van Woensdag, 8 Januarie nie, en was op toe die eerste haan kraai. Die skoolhekke was net oop en leerders het met ‘n vinnige pas ingestap, reguit kantoor of saal toe om hul matrieksertifikate te ontvang. Alhoewel hulle finale punt reeds ‘n paar dae beskikbaar was blyk dit dat die grootste gros gewag het om hul resultate op die rapport vir die eerste keer te sien.

By Krugersdorp High School het vriende nog lank buite die kantoor gestaan en saam gelag van verligting na hulle besef het hoe goed hulle finale punte lyk. In die geheel het die skool ‘n 96,4 persent slaagsyfer, met 98 onderskeidings en 63,4 persent universiteitstoelating gehad.
Een leerder wat uitgestaan het tussen die reeds merkwaardige groepie was ene Angelique Rossouw wat weggestap het met ‘n naas perfekte rapport. Angelique het gehoorverlies en dra ‘n gehoorstuk om haar te help, en lees selfs lippe om alles duideliker te maak. Met dit wys sy dat niks haar kan terug hou nie, en sy het op die einde weggestap met verskeie onderskeidings.

By Hoërskool Noordheuwel was die slaagsyfer ‘n indrukwekkende 100 persent tussen hulle 303 leerders, met 94 persent universiteitsvrystelling en 500 A’s. Angie Geyser het vertel hoe opgewonde sy is om haar graad in Rampbestuur te doen. Juané Odendaal is oppad om Sielkunde te studeer, en Micaela Botha beplan om Biokinetika by Stellenbosch te doen. Beide Jasinda Maree en Zir Erasmus wil ‘n breuk neem die jaar, en Johann Jacobse is oppad om krieket oorseë te gaan speel.


