Daar was trane en seer hartjies, maar ook nog baie meer glimlagte en opgewondeheid terwyl die vars gesiggies van dié jaar se Graad 1’s by skole regoor Krugersdorp ingestroom het.
‘n Paar was nog nie gereed om vir mamma te laat gaan nie, terwyl ander onverwags vooruit gehardloop het om hulle nuwe juffroue te groet en die skool te ontdek.
Hierdie jaar het die ma’s ook hulle hartseer baie beter weggesteek en sterk gestaan terwyl hulle vir hul kleintjies ‘n laaste drukkie gee voor die groot skool begin het. Die pa’s het wel hulle trots sterk gedra, en net vir ma elke nou en dan vasgehou om te sê dit sal okay wees.
Laerskool Krugersdorp-Noord het die rooi tapyt uitgelê om ouers en kinders te verwelkom, terwyl Kenmare hulle klok-tradisie voortgesit het waar die Graad 1’s gegroet was by die hek deur die hoof en skoolleiers, en elkeen die klok by die hek moes lui.
By Curro Krugersdorp het die kinders alreeds begin lees voor 10vm en hul juffroue, menere en maatjies goed leer ken. Almal het later by hul skole in die saal bymekaar gekom vir ‘n spesiale verwerlkoming en bekendstelling aan hul nuwe onderwysers.

