Vir een familie was die begin van 2020 nie wat hulle wou hê nie. ‘n Oujaarsaand-rooftog het hul familie in rou gedompel.
Die 21-jarige Donovan Visagie is sonder rede doodgeskiet toe hy die nuwe jaar saam met sy vriende wou ingaan.

Foto’s: Verskaf.
Sy suster, Yvette Roux het vertel dat Donovan op Oujaarsaand op pad was om saam met vriende na vuurwerke te gaan kyk.
Hy moes eers ander vriende by hul huis gaan aflaai voordat hy by die ander groep sou aansluit. Toe hy by die groep aankom, was drie mans reeds besig om hulle te beroof en hul bakkie te deursoek.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/336528/ek-het-gedog-hulle-gaan-my-vermoor-bejaarde-na-aanval/
“Hulle [die gewapende mans] het doodeenvoudig na hom toe gehardloop terwyl hy nog in die kar gesit het en hom deur sy windskerm doodgeskiet,” het Yvette aan die News vertel.
Sy het gesê dat die mans toe haar broer uit die kar probeer haal het maar toe sy vriende nader kom, het hulle net sy selfoon gegryp en gevlug.
Donovan se beste vriend en ‘n ander vriendin was eerste by hom net na die booswigte gevlug het.
“Hulle het hom geskud en hom probeer wakker maak,” het Yvette vertel. Al was sy oë oop het hy geen teken van lewe getoon nie. Hulle het sy polsslag probeer kry, maar Donovan was reeds dood.
Donovan was volgens sy familie ‘n vriendelike jong man met ‘n hart van goud. Hy het sy familie en sy kar liefgehad. Karre en wedrenne was sy passie.
Yvette het verduidelik, “Hy was werklik ‘n goeie mens. Hy het in soveel mense se harte ingekruip. Hy was ‘n regte grapjas, en het ‘n mens so laat lag. Hy was ‘n held!”.
Donovan is in Krugersdorp gebore en het ‘n ruk lank in Alberton gewoon voordat hy saam met sy ouers terug is Krugersdorp toe waar hy sy skoolloopbaan by HTS Nic Diederichs THS voltooi het.
Yvette het gesê sy sal nooit haar broer se hart, sy liefde, sy grappies en die tye vergeet toe hy by hulle gaan kuier het en dadelik die yskas oopgemaak het op soek na iets lekker nie.
“Ons wil graag vir almal wat ons deur hierdie verskriklike tyd bygestaan het, dankie sê vir al hul liefde en omgee. Ons waardeur dit meer as wat hulle besef.”
Sy wil ook vir die mense sê wat haar broer vermoor het, “Jy sal jou dag kry, God laat niks ongesiens verby gaan nie!”

