Skole regoor die land het dié week hoopvolle glimlaggende gesiggies verwelkom op hul eerste dag by die grootskool.
By Laerskool Protearif het die nuwe Graad 1’s reeds op Dinsdag, 14 Januarie hul eerste dag van skool gehad. Die skool se leerderraad het hulle by die hekke ingewag en elke nuwe Protie het ‘n boekmerkie en ‘n lekker gekry.

Daarna kon hulle hul juffrouens ontmoet en hul naambalkies kry voordat hulle hul groot tasse klas toe gesleep en gedra het.
Net hier en daar was ‘n traan te sien by ‘n nuwe graadeentjie-paddabeentjie, maar die meeste is deur die mammas en/ of pappas gepink.
Monument Primary was ‘n miernes op Woensdag, 15 Januarie toe hul Graad 1’s saam met die res van die skool aangemeld het.

Mammas en pappas het gehelp om die nuwelinge by hul tafeltjies gevestig te kry voor daar foto’s geneem is en die groot totsienssê plaasgevind het.
By Laerskool Ebenhaeser het die juffrouens nie lank gewag nie. Nadat die klok gelui het om die begin van die skooldag aan te kondig, het die Graad 1’s hul klei uitgehaal om hul skooldag offisieël met ‘n takie af te skop.

