Local newsNews

Motorfietsongeluk eis een lewe en los familie in skerwe

'n Plaaslike familie sê dat hulle vir Dana Lourens baie gaan mis, nadat hy gesterf het in 'n motorfietsongeluk Maandag.

“Ons sal hom nooit vergeet nie,” sê die ouers van 53-jarige Dana Lourens wat Maandag, 20 Januarie, sy lewe in ‘n motorfietsongeluk verloor het.

Chris Lourens, Dana se pa, vertel dat hy van ‘n jong ouderdom af motorfiets gery het. Al het hy nie aan ‘n klub behoort nie, het hy soveel tyd as wat hy kon op sy motorfiets spandeer.

“Hy het oor die jare baie verskillende motorfietse gehad en as sy vrou nie saam met hom gery het nie, het hy sommer gou met die motorfiets gegaan,” het hy vertel.

Lees ook:

https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/400259/police-officer-dies-in-krugersdorp-north-accident/

So het dit ook gebeur op dié oggend. Chris was besig om te werk toe iemand vir hom vertel van ‘n groot motorfietsongeluk naby die polisiestatsie in die middedorp. Hy het dadelik gedink dit kan Dana of sy broer wees en toe hy hoor dat dit ‘n groot motorfiets was het hy Dana se vrou, Joey, gebel en gevra om te gaan kyk.

Hy het ook sy vrou, Dorris, gevra om te gaan kyk terwyl hy by die werk was. Dorris het die fiets erken en teruggery om hom te gaan haal, en hy kon toe sy seun op die toneel uitken.

Dana was net na 12 die middag oppad om van die polisiestasie se kant in Kommissarisstraat af te ry toe ‘n vrou in ‘n Volkwagen Polo uit Omegastraat voor Dana ingery het. Dana is opslag dood. Volgens Chris was Dana net gou dorp toe.

Hy los sy vrou, twee kinders en een kleinkind agter. Sy dogter wat sewe maande gelede na Nieu-Seeland geëmigreer het, het reeds terug gevlieg vir die begrafnis.

Dana het in Krugersdorp groot geword en 33 jaar as ketelmaker by die myn gewerk voordat hy ses jaar gelede afgetree het.

“Hierdie laaste paar jaar was hy altyd daar as jy hulp gekort het, ek kon hom bel vir enige iets en hy het gekom,” het ‘n hartseer Chris vertel.

Dana en sy seun het baie saam gaan visvang en Dorris sê dat visvang sy passie was, hy het selfs Protea-kleure vir visvang gehad.

Hy sal op Maandag, 27 Januarie te ruste gelê word vanuit die AGS van Suid-Afrika Krugersdorp-Sentraal Kerk op die hoek van Jeppe en Ockerstestraat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button