‘n Plaaslike inwoner het vertel dat hy deesdae nie sy gesig by Dr Yusuf Dadoo Hospitaal kan wys nie omdat sekuriteitspersoneel hom gedreig het nadat hy oor swak diens gekla het.
Kenneth Hatting het vertel dat sy vrou, Emelda in Januarie 2018 die eerste keer geval het nadat sy ‘n stuipe-aanval gekry het.
“Die paramedici het haar hospitaal toe gevat en gesê sy moet so gou as moontlik mediese hulp ontvang,” het Kenneth verduidelik.
Lees ook:
https://www.citizen.co.za/krugersdorp-news/223001/dr-yusuf-dadoo-celebrates-final-stage-of-r1-million-project/
Sy is in die hospitaal opgeneem en volgens Kenneth het sy van die Vrydag tot die Maandag daar gelê sonder dat ‘n dokter haar ondersoek het.
“Ek het met die dokter baklei en gevra hoekom hy in die vier dae nog nie by haar was nie, maar hy wou nie na my luister nie.”
Hy is daarna na die superintendent om ‘n klag te lê. Sy het vir hom gesê om vir haar te wag en dat sy binnekort by hulle sou wees.
‘n Uur en ‘n half later het Emelda haarself uitgeteken en die egpaar is huis toe sonder om die superintendent te sien.
Dit was egter nie die einde nie en die afgelope Nuwejaarsdag het Emelda weer drie stuipe-aanvalle gekry. Gelukkig was haar man daar om te keer dat sy val.
Hy het haar in die kar gelaai en hulle het net na 1nm by die hospitaal aangekom. Teen 6.30nm het Kenneth by ‘n dokter gaan hoor hoekom sy vrou nog nie mediese aandag gekry het nie.
“Die dokter het haar lêer uitgehaal, daarna gekyk en dit weer onder in die hoop teruggesit,” het hy mismoedig vertel.
Daarna het hy besluit om Emelda terug huis toe te neem en by ‘n ander hospitaal te gaan hulp vra.
Kenneth het vertel dat hy nie die indruk gekry het dat daar ernstiger gevalle was wat voor hulle gehelp moes word nie, en het bygevoeg dat hy deur die sekuriteitswagte gedreig is toe hy sy stem dik gemaak het oor die gebrek aan diens.
Hy het sy vrou later na Leratong Hospitaal geneem waar sy die behandeling en diens gekry het wat sy verdien, het Kenneth vertel.
Die News het die hospitaal genader vir kommentaar, maar het nog niks ontvang nie.

