Spekbome bevorder fisiese en geestelik selfversorging
Die gemeente van Rant en Dal Prisma het onlangs 'n reis van selfversorging aangepak en elkeen het 'n spekboom gekry om hul daarmee te help.
Die Rant en Dal Prisma-gemeente fokus hierdie jaar op verandering – nie net diepgewortelde geestelike verandering nie, maar ook die verandering wat hulle in hul omgewing en in die lewe van die mense om hulle kan maak.
Hul tema vir 2020 is dus om idees te verskuif, jouself te versorg, en te vertak en te floreer. Om hierdie tema voor te stel het die hele gemeente op 19 Januarie elkeen ‘n spekboom gekry om deur die jaar te gaan versorg. Dit simboliseer die verskuiwing van idees.
Daar is 1 500 spekbome aan die gemeente uitgedeel. Dié wat die oggend- en aanddiens bygewoon het, sowel as dié by die kinderbediening het elkeen ‘n boom gekry. Deur die jaar sorg hulle vir die boom, wat die versorging van jouself simboliseer, en aan die einde van die jaar word die bome terug gebring en almal word saam geplant sodat hulle kan vertak en floreer.
Kariné Joubert, die kerk se bemarker het vertel dat dominee Wimpie Wasserman reeds verlede jaar spekboomsteggies op sy pa se plot gepluk het. Hy het hulle geplant sodat hulle wortels sou hê wanneer hulle vir die gemeente uitgedeel word.
Die spekboom word deesdae beskryf as een van die natuur se wonderplante en ook een van die groot wapens teen klimaatsverandering.
Spekbome is eg Suid-Afrikaanse plante wat droogte- en in ‘n mate kouebestand is. Dit is ook ‘n bindingsmiddel vir grond en kan help om gronderosie te voorkom.
Een spekboom kan oorleef op net tussen 250mm en 350mm water per jaar, wat dit geskik maak vir droogtegeteisterde gebiede.
Daar word gesê dat een hektaar spekbome tussen vier en 10 ton koolstofgas per jaar kan absorbeer.
‘n Spekboom kan tot vyf meter hoog groei en lewe tot 200 jaar; hulle groei ook baie maklik en een steggie is al wat nodig is om ‘n nuwe boom te laat groei.
Kariné het vertel dat dit ook die perfekte simbool is vir die lewe van ‘n gelowige.
Gelowiges absorbeer die uitdagings wat na hul kant toe kom en respireer vars lug deur die verkondiging van Christus se koninkryk.
Gelowiges is nie afhanklik van seisoensveranderinge nie en as droogte tref, is dit die Heilige Gees wat hulle voed.
“Verder word ons ook genooi om die gevolge van erosie binne onsself, binne die liggaam en in die wêreld om te draai,” het sy verduidelik.
Die spekbome dien dan hierdie jaar as ‘n simbool van die verandering in elke gemeentelid.
Die laaste gedeelte simboliseer die vertakking van die gemeenskap se liefde en sorg vir hul gemeenskap.

