Local newsNews

Sjef Chanté en haar span bring medaljes terug van Olimpiese Spele

Chanté Rabie is deel van 'n span van ses merkwaardige sjefs wat tydens die IKA Culinary Olympics drie medaljes gewen het.

Chanté Rabie is maar net 22 jaar oud en is reeds besig om haar kookkunsdrome te bewaarheid.

Vroeër in Februarie het Chanté saam met haar vyf spanmaats in ‘n vliegtuig geklim om hul land by die 25ste IKA Culinary Olympics in Stuttgart, Duitsland te gaan verteenwoordig.

Chanté werk tans as ‘n senior fyngebaksjef by Saxon Villa en Spa in Sandton, en het vertel dat ‘n loopbaan in kos nie altyd deel van haar planne was nie.

“Ek het musiek oorweeg maar my hart het nie die passie daarvoor gehad nie. Ek het al hoe minder van musiek begin hou. My ma is lief vir fyngebak en dit het my verskriklik geïnteresseer wanneer sy daarmee besig was,” het sy gesê.

Toe sy 17 was, het haar ma voorgestel dat hulle ‘n kulinêre toer deur die Kaap onderneem en toe Chanté terugkom, het sy klaar haar hart op kosmaak verloor.

Na skool het sy by die Food and Beverage Institute (FBI) se sjefskool in Randburg onder leiding van Nicolas van der Walt studeer.

In plaas van net ‘n sjef word het Chanté besluit om op fyngebak te konsentreer.

Fyngebak is volgens haar ‘n baie passievolle kosberoep. Sy het verduidelik dat dit nie net kos is wat jy lekker moet laat smaak nie; fyngebak gaan ook oor chemie en besondere vaardighede.

“Dit verg baie dinkwerk en baie kreatiwiteit. Dit is definitief iets wat my die hele tyd op my tone hou. Ek voel altyd dat daar net nog is wat ek moet leer, en net nog is wat ek moet probeer.”

Die kulinêre kompetisie was van 14 tot 19 Februarie aangebied en topsjefs van regoor die wêreld het daar teen mekaar meegeding. By dié kompetisie moes die span wat bestaan uit twee fyngebaksjefs en vier ander sjefs teen spanne van 22 ander lande kook.

Chanté het verduidelik hoe die span vir die Olimpiese kookkompetisie gekies word. Sy het vertel dat sjefs hulself en hul naam moet opbou en dan word ‘n span gekies uit die land se beste sjefs. Oor die volgende paar jaar moet die sjefs hulself bewys voordat hulle uiteindelik kan deel uitmaak van die finale ses.

Die kompetisie vind elke drie jaar plaas en gedurende die laaste jaar voor die kompetisie kom die ses sjefs elke maand bymekaar om aan hul spyskaart te werk en die geregte te oefen totdat alles perfek is.

Chanté het gesê dat sy en die ander fyngebaksjef baie lekker saamwerk en dat sy vol hoop vir haar span is.

Toe sy gevra is watter bestanddeel haar na aan die hart lê, het sy vertel dat haar gunstelingbestanddeel om mee te werk beslis sjokolade is.

“Ek is ongelooflik lief vir sjokolade, en almal gaan sê ‘n fyngebaksjef moet lief wees vir sjokolade, maar daar is soveel wat jy daarmee kan doen.”

Wanneer sy haarself egter met ‘n soetigheid wil bederf, sal haar hart maar altyd by ‘n tradisionele Malvapoeding lê.

Die toekomspad lê vir Chanté besaai met sjokoladesprinkels en haar groot droom is om eendag haar eie nageregkroeg oop te maak; een waarheen mense kan kom net om haar verskillende nageregte te geniet.

Die News wil graag vir Chanté en haar span geluk wens met die drie brons medaljes wat hul huistoe gebring het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button