Eenmaal elke kwartaal pak Laerskool Kenmare die boelieprobleem aan.
Deur middel van hulle teenboelieveldtog word leerders geleer van die verskillende tipes afknouery, hoe om dit te hanteer en te voorkom, en van die moontlike redes daarvoor.
Met hul eerste teenboelieweek vir die jaar het Kenmare op Vrydag, 14 Februarie vir AfriForum verwelkom om met die leerders te gesels.
“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon word toegerus met die kennis om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind,” het AfriForum se Bestuurder vir Junior Jeugleierskap, Leandie Bräsler verduidelik.
Elke dag van die week het ‘n tema gehad. Maandag was High five-dag, waartydens elke high five ‘n maklike manier was om vir ‘n ander leerder te sê, “ek sien jou raak”. Dinsdag het die leerders kleurvolle sokkies aangetrek om klem te lê op die feit dat elkeen uniek is. Woensdag was dankbaarheidsdag, waartydens maats vir mekaar dankie gesê het vir alles wat hulle vir mekaar doen. Sommiges het selfs klein geskenkies vir mekaar gegee. Donderdag was omgeedag waartydens dié wat wou, vir iemand wat dit nodig gehad het, ‘n kospakkie kon bring. Die leerders is aangemoedig om dit te doen nie omdat hulle raakgesien wou word nie, maar omdat hulle regtig wou. Laastens was Vrydag, ook Valentynsdag, liefdedag waartydens leerders rooi kon aantrek wat liefde vir hulself, hul medeleerders en hul skool voorgestel het, en blou as vergifnis vir iemand wat iets verkeerd aan hulle gedoen het.

