Vlamme brand hoog by die Jacaranda #Straatbraai
Jacaranda FM se Scenic Drive het weer by Krugersdorp kom kuier om 'n feestelike braai in die middel van 'n straat in Kenmare te hou.
Toe Jacaranda FM so ‘n jaar gelede ‘n draai in Krugersdorp vir ‘n #Straatbraai gemaak het, was daar soveel gees en genot dat hulle die geleentheid aangegryp het om vanjaar weer so te maak.
Die Scenic Drive-span het die gekose Vrydagaand Meathstraat in Kenmare afgesper, hul buitelugateljee geparkeer, tente opgeslaan en die inwoners uit hulle huise gelok. Braaitoerusting is gou in die straat opgestel en die vlamme het vroeg reeds hoog gebrand.

Rhonette Reid het ‘n tydjie gelede ‘n brief aan Rian van Heerden en die Scenic Drive-span gestuur om haar straat vir die #Straatbraai te nomineer nadat haar buurman dit voorgestel het.
Sy het ook gedink dit sou die ideale geleentheid wees om haar huweliksherdenking te vier.
“Baie dankie, Jacaranda, Rian en span vir die geleentheid om ‘n straatbraai saam met julle te kon hou,” het Rhonette na die #Straatbraai gesê
“Net jammer oor die reën, maar braai is daar gebraai. Rian, julle sal maar moet terugkom sodat ons ‘n ordentlike braai op ‘n sonnige dag kan hou.”

