Sedert dit op 18 Maart alom bekend geword het dat skole vroeër sou moes sluit en dalk vir langer onder inperking sou wees, het die Kenmare-Familie versnel na ‘n hoër rat.
Skielik moes hul anders dink en met innoverende idees na vore kom om ons skool se akademie, op hul bekende hoë standaarde, te handhaaf.
Breinfliks was die oorheersende doelwit en ons akademiesespan het nie teleurgestel nie! Die Kennies-inklusief-span het reg gestaan met raad vir die psigiese welstand van ouers en leerders en telefoniese hulpverlening het hul Kennie Kampioene gemoedsrus gegee, het Laerskool Kenmare in ‘n persverklaring gesê.
Die kurrikulum inhoud is onmiddellik aangepas tot hanteerbare werkstukke wat gemaklik op die skool se D6-skakel asook op die verskillende klasse se WhatsApp-groepe uitgestuur kon word. Hierdie ‘lesse’ is uitgestuur met gepaardgaande hulpmiddels soos -Powerpoint-aanbiedings- met stemnotas en dan ook skakels na webtuistes wat die ‘onderwerpe’ meer visueel kon maak.
Aanlyn onderrig het oornag ‘n werklikheid geword, en die Kennie-span het hierdie uitdaging met albei hande aangegryp en hul eie gemaak! Hul hoofdoel was om almal te bereik en niemand agter te laat nie.
By Graad 4-7 gaan daar weekliks tussen 60 en 70 dokumente, videolesse, powerpoint aanbiedinge, stemnotas, musiek en memorandums uit.?n Opname is onder ouers gemaak rakende drie belangrike struikelblokke naamlik: 1. het almal toegang tot genoeg data, 2. het almal genoeg toestelle soos slimfone, tablette en rekenaars en 3. het alle huishoudings toegang tot ‘n drukker. Gou het hul besef dat die skool aanpassings moes maak om hul ouers tegemoet te kom.
Werk word dus twee keer per week afgerol en ouers wat wil, kom haal dit af by die skool in die oggende.
Hulle is reeds op die agtste week met hul ekstra werk en hul terugvoer van ouers en leerders is uiters positief. Die werk gaan voort en hul voorsien dat die werk vir kwartaal twee met groot gemak sal kan voltooi.Die Grondslagfasepersoneel is deurentyd, op klasgroepe, in kontak met die ouers wat tuis hul allerbeste probeer om te help om by te hou met die leerlinge se werk.
Hulle is baie trots dat hul kan sê hulle is op datum met Kwartaal twee se kurrikulum. Werk gaan weekliks uit na die ouers op ?n verskeidenheid platforms. Die vakke word afgewissel om sodoende vir ouers en kinders genoeg tyd te gee om deur alles te werk. Alle Grondslagfase leerders het ook die geleentheid gehad om hul boeke by die skool te kom afhaal.
Dit verseker dat niemand benadeel word in dié tyd nie.Omdat sekere grade nog vir ‘n geruime tyd vanaf die huis sal moet werk en data ‘n wesenlike probleem is, stel hul binnekort die Kennies-Kuberkol in werking. Hul gaan gebruik maak van die Microsoft Teams-program om hul eie aanlynleer-platform te vestig.
Vir die ouers wat ‘n uitdaging het met data, is daar nou ?n baie maklike oplossing. Ouers stop langs die skool in Emdonstraat en kan in die gerief van hul eie motor, op die platform aanteken met die leerling se eie unieke profiel, en dan al die werk vir die week aflaai en later, indien nodig, weer werkstukke oplaai.
Dit alles sal gratis vir ouers aangebied word. Verder het die Beheerliggaam skoolfondsverligting vir die maande Junie, Julie en Augustus vir elke ouerhuis bewerkstellig. Inderdaad is Kenmare een groot familie wat mekaar in tye van nood ondersteun.
Leerders se veiligheid is kernbelangrik. Daarom is die skool deeglik aan die buitekant gesaniteer deur Mogale Response Services, waarna ECA Natural Hygiene ook die hele skool aan die binnekant kom disinfekteer het en ‘n ‘deep clean’ gedoen het.
Personeel is goed opgelei in Kovid-19 se voorskrifte en regulasies en het reeds elkeen hul sertifikate hiervoor ontvang. ‘n Groot opgewondenheid tydens die inperkingstyd, was die afskop van ?n kunskompetisie.
Elke leerder kon hulself teken met ‘n gesigmasker en ‘n agtergrond wat hul gevoelens in hierdie tyd uitbeeld. Hierdie kompetisie het op 31 Mei gesluit en skitterende kunsstukke is ontvang.
Die skool sien uit om eersdaags die wenners aan te kondig.Kenmare het alreeds op 7 Maart hul Opedag aangebied en ook ‘n virtuele toer daarvan gemaak.
Dit is weer op hul Facebook-blad geplaas met baie positiewe reaksie van voornemende ouers. Op Vrydag, 29 Mei, is ‘n inligtings video ook op hul Faceboek-blad geplaas wat presies wys wat van elke graad 7-leerder verwag gaan word en gereelde omsendskrywes word aan ouers gestuur om hulle op hoogte te hou van hoe Laerskool Kenmare beplan om vir ons Kennies ‘n veilige hawe te wees wanneer die skool weer begin. Vir hulle by Kenmare is voortdurende en effektiewe kommunikasie baie belangrik.
Hulle leerders en ouers is ingelig en voorbereid op dit wat ons almal se ‘nuwe normaal’ gaan wees.
In hierdie tyd van onsekerheid het die Kenmare-familie weereens bewys dat hulle kan saamstaan en met innoverende denke die wa deur die drif kan trek.
Hulle kan nie wag om die Hartklop van hul skool, weer terug te hê nie!

