‘Jy kan weer opstaan na jy geval het’
Hy was destyds 'n jong konstabel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens
In 1987 het ‘n plaaslike inwoner op die voorblad van al wat ‘n koerant is gepryk.
Maar dit was nie iets waarvoor hy gevra het nie.

Inteendeel, die rede vir hierdie ‘roem’ het amper sy lewe gekos.
Frik Ernst, ‘n Krugersdorpse eiendomsagent, het in Mei 1987 ‘n bomontploffing oorleef.
Hy was destyds ‘n jong konstabel in die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Hy het op die 33ste herdenking van hierdie dag op sy Facebook-blad gesê dat dit ‘n doodgewone dag in 1987 was toe sy lewe onherroeplik verander het, en dat wat tans in die wêreld aangaan, in die tyd van inperking, hom herinner aan die dag toe hy moes besluit het om te bly lewe.
“Nou vra jy seker hoe kan so iets inspirerend wees? Dit gaan nie so seer oor die smart van daardie dag nie, maar wat ek met my lewe daarna gemaak het. Ek het ‘n keuse gehad – gaan ek ‘n wrok dra en my lewe verbitter, of gaan ek aanvaar wat gebeur het en aangaan met my lewe?

Ek was so dankbaar dat ek nog geleef het en het daardie tyd besluit om die mense wat dit aan my gedoen het te vergewe, [daarvan te] vergeet en aan te gaan met my lewe,” het hy op Facebook gesê.
Frik het genoem dat daar vandag baie mense is met dieselfde swaar gevoelens in hul harte teenoor die staat van inperking, en hoe dit hul lewens verander het.
Sy lewe is soos enigiemand anders s’n vol ups en downs, soos hy dit stel. Frik het vertel dat hy op daardie onheilsdag in 1987 deur sy kantoorvenster gesien het hoe ‘n bom ontplof.
Hy en twee van sy kollegas is dadelik na die toneel toe om die tweede bom wat onder ‘n motor versteek was, te ondersoek.
“Dit was ‘n kleefmyn (limpet mine) wat onder ‘n geel Renault 5 ontplof het. Ons is opgelei om altyd dadelik die misdaadtoneel te beveilig. Ons het ons onmiddellik na die toneel gehaas.
Terwyl ons die gebied afgesper het, het die tweede bom afgegaan. Dit was ‘n baie kragtige bom.
“Hy het vertel dat sy bene vol gate geskiet is. “My regterbeen se kuit is halfpad weggeskiet. My linkerbeen het ligter daarvan afgekom. Daar is wel skrapnelstukke reg deur my been, maar dit het later wonderbaarlik genees.”
Ongelukkig het sy een kollega dit nie oorleef nie. En toe, in 2017, tref nog ‘n tragedie hom. Hy het van ‘n leer afgeval met ‘n saag in sy hand wat feitlik die helfte van sy linkerkuit weggesny het.
“Hoe gelukkig kan mens wees, twee beserings, twee halwe kuite en ek kan steeds vandag loop. Ek noem nou my bene lucky legs.”
Frik se boodskap is duidelik: om weer op te staan nadat jy geval het, is ‘n keuse. Na die bomontploffing moes Frik talle operasies ondergaan en van voor af leer loop.

Hy het ‘n silwermedalje vir dapperheid van die Minister van Polisie ontvang vir sy vinnige optrede daardie verskriklike dag.
Hy leef sedertdien voluit en wil sy boodskap van hoop met die gemeenskap deel.”Onthou weer: staan op as jy val, die lewe is te kosbaar.”

