Krugersdorp groet nog ‘n geliefde dokter en oud-Springbok
'Hy het guts op en van die veld af gehad' – Frik du Preez, Springbok-rugbyspeler van die vorige eeu.
Krugersdorpers het die hartseer nuus ontvang dat nog een van hul bekende en beminde geneeshere die afgelope tyd oorlede is.
Dokter Gerhard (Corra) Dirksen is op die ouderdom van 82 oorlede nadat hy twee weke gelede positief getoets het vir Covid-19.
Hy is die tweede dokter van dieselfde praktyk wat binne ‘n kwessie van ‘n maand oorlede is.
Dokter Dirksen was 42 jaar lank ‘n algemene praktisyn, waarvan 40 jaar in Krugersdorp was. Hy het destyds saam met dokters Daan Steyn (wat ook onlangs oorlede is), Venendal en Van Niekerk‘n praktyk geopen, en hulle het later hul praktyk by Medicross Krugersdorp voortgesit waar hy steeds gepraktiseer het toe hy met Covid-19 gediagnoseer is.
Dr Dirksen het ook bekendheid op die rugbyveld verwerf. As een van die helde van Loftus Versfeld het hy 35 keer vir die Ligbloues uitgedraf, en het op 26 in 1963 sy buiging as Springbok teen Australië gemaak het. Corra, soos hy in sy rugbydae bekend was, het die groen en goud 10 keer oor sy kop getrek en in 1967 naam gemaak toe hy in ‘n reeks teen die Franse drie drieë gedruk het.

Die familie wil graag vir almal wat vir dokter Dirksen geken het en sy pasiënte was, baie dankie sê dat hulle hom ondersteun en liefgehad het soos wat sy familie hom liefgehad het.
Frik du Preez, Springbok-rugbyspeler van die vorige eeu het vertel dat hy vir Corra baie goed onthou.
“Ek het lank saam met hom gespeel. Ek en hy het ‘n hele paar jaar saam vir Noord-Transvaal gespeel. Kyk, hy was ‘n ongemaklike ou om teen te speel. Hy was nie die vinnigste vleuel nie, maar hy kon têkkel!
Ons het almal saam in die Springbok-span gespeel en daai vinnige vleuels kon nooit by hom verbykom nie.
“Toe ons vir Noord-Transvaal gespeel het, was hy ‘n mediese rep, en het vir my gesê hy gaan nou medies studeer. Ek het maar net gesê,‘Jinne ou Corra,’en hy het wragtig ‘n dokter geword. Hy het guts op en van die veld af gehad.”
Lees ‘n vollediger storie in die volgende uitgawe van die News.

