Agtjarige model reik uit na mense in nood
As gevolg van die grendeltyd kon 'n paar funksies nie voortgaan nie maar hulle het dit vinnig in iets anders omskep.
Die kleine Azalea Hood is nie net ‘n meisie met ‘n groot persoonlikheid nie maar iemand met ‘n groot hart ook.
Die agtjarige model is hierdie jaar een van die finaliste In die Miss Petite Krugersdorp 2020-kompetisie, waarvoor deelnemers aan verskillende projekte moet deelneem. Dit is juis uitreikprojekte wat Azalea se hartsnare roer en sy probeer deesdae om soveel as moontlik by die West Rand Outreach Revival-organisasie hand by te sit. Die organisasie voorsien gereeld ‘n bord warm kos aan behoeftiges in die gemeenskap.
“Ek het al die honger mense gesien en ek wou hulle baie graag help,” het sy verduidelik.
Die Miss Petite-kompetisie het ook vir Azalea aan ander liefdadigheidskompetisies blootgestel en oor die afgelope paar maande het die finaliste uitdagings gekry om te voltooi, onder andere ‘n eier-en-Oros-projek waarvoor hulle eiers en Oros moes insamel om aan behoeftiges uit te deel. Daar was ook ‘n Moedersdagprojek waarvoor hulle slaapsokkies bymekaar gemaak het om aan moeders uit te deel en hulle moes onlangs maskers bymekaar maak.
Die maskers sal op Mandela Dag in Appelpark aan die gemeenskap uitgedeel word.

As gevolg van die grendeltyd kon ‘n paar funksies nie voortgaan nie maar hulle het dit vinnig in iets anders omskep.
‘n Damestee wat in April sou plaasvind is uitgestel, maar die finaliste het steeds ‘n ‘Quarantea’ gehou waarvoor hulle ‘n partytjie met herwinbare produkte by die huis moes hou en die foto’s aan die beoordelaars stuur.
Azalea het nou maar eers ‘n jaar terug met haar modelloopbaan begin, maar is in Februarie deur Liezl Bruwer, Mev Krugersdorp 2019 raakgesien en uitgenooi om deel te neem. Sy werk tans hard want sy wil nie eendag net Mej Suid-Afrika wees nie – sy mik na ‘n wêreldtitel.
Indien jy vir Azalea wil stem, stuur gerus ‘n SMS wat sê ‘Win K7’ na 47 439 teen R3 per SMS.

