Samaritaan begin sopkombuis tydens inperking
Piet Becker het een aand besluit hy gaan sy gemeenskap probeer help, en na 'n paar maande het hy 'n sopkombuis wat honderde mense elke dag kos gee.
Nog voor die son kom groet het vir die nuwe dag is Piet Becker van Krugersdorp-Wes reeds op en aan die kook. Hy kook nie net vir sy eie familie nie maar ook vir die honderde mense wat teen 2nm voor sy huis sal staan en geduldig wag vir ‘n bord kos.
Piet het vertel dat dit nie die plan was om vir soveel honger mense kos te gee nie, maar dat dit toevallig vroeg in die inperkingstyd oor sy pad gekom het.
Ek, my vrou en ons kind het een dag dorp toe gestap toe twee jong meisies na ons toe kom en vra of ons hulle kon help, want hulle was baie honger. Ek het hulle huis toe gevat en elkeen ‘n bord warm kos gegee,” het hy verduidelik.
Daardie aand het hy in die bed gelê en vir sy vrou gesê, “Van more af gaan ek vir mense begin kos maak”.
So het dit toe ook gebeur dat Kim Williams van die West Rand Outreach Recovery oor sy pad gekom het en saam het die twee donasies begin insamel om vir die gemeenskap kos te gee.

Een van hulle grootste skenkers is Jesus Siaz van Randburg. Hy skenk gereeld kos of voorsien hulle van die finansies om kos te koop vir die sopkombuis.
“Soos die mense van ons te hore gekom het, het meer en meer kom hulp vra,” het Kim vertel.

Op ‘n gewone dag gee hulle vir nagenoeg 350 mense kos. Hulle het al op een slag vir 850 mense kos gegee en al 168 kospakkies aan die gemeenskap uitgedeel. Elke dag is daar óf sop, óf kookvleis en rys, óf macaroni en maalvleis op die spyskaart.
Die kos word gewoonlik so teen 2nm uitgedeel maar toe leerders teruggekeer het skool toe, is Piet gevra om die kos ‘n bietjie later uit te deel sodat die skoolkinders ook daarvan kon kry.

“Ek koop self vurke, lepels en bakkies,” het Piet gesê. Hy het verduidelik dat dit sy hart gebreek het om kinders te sien wat so honger is dat hulle om die hoek hul kos met hul hande gaan eet het want hulle was te honger om te wag tot hulle by die huis is, al het hulle nie lepels of vurke gehad nie.
Die organisasie gebruik 25kg rys of mieliemeel per dag en vra asb die gemeenskap om hulle te ondersteun. Hulle het ‘n behoefte aan vleis, rys, mieliemeel, gemengde groente, vrugte, sout, peper, soppakkies, aartappels en wortels, en enige ou klere.
Indien jy ‘n donasie wil maak, skakel gerus vir Kim by 067 679 9018 of Piet by 062 806 8039.

