Daar om vroue te help
Inwoner besluit om weer haar insamelskoene aan te trek nadat sy sopkombuis besoek.
Vir die afgelope paar maande het die swaarkry van haar gemeenskap op Julyhanna Coetzer se hart gelê. Dit is toe dat sy vir haar man gesê het sy gaan iets doen om te help.
In 2015 het Julyhanna en haar man die Charlie’s Angels-organisasie begin om behoeftige kinders en bejaardes in Burgershoop te help.
Die familie het hulself egter twee jaar later in ‘n posisie bevind waar hulle hulp nodig gehad het toe ‘n tornado hul huis getref en die dak afgewaai het. Dit het die familie sonder ‘n heenkome gelaat. Julyhanna het vertel dat hulle in daardie tyd baie verloor het.
Die organisasie was gevolglik vir ‘n paar jaar lank onaktief maar Julyhanna het besluit om weer aan die gang te kom en haar gemeenskap te help.
Sy het vertel dat sy onlangs by ‘n ander sopkombuis was waar vir honger mense kos uitgedeel is.
Ek het gesien almal kry hul bakkie kos, maar wat my opgeval het was die mamma wat met haar babatjie daar gestaan het,” het sy gesê.
Sy het besef dat die baba nie die sopkombuis se kos kan eet nie en dat die ma wat nie eers kos vir haarself en haar ander kinders het nie, beslis nie geld vir babamelk of -doeke het nie.
Sy het besluit dat in plaas van kos insamel wil sy melk en doeke insamel vir ma’s met babatjies, en ook sorg dat jong meisies sanitêre produkte kry.
As dit moeilik is om kos op die tafel te sit is daar dalk nie geld vir ander dinge ook nie,” het Julyhanna gesê.
Sy vra dat besighede haar asseblief sal help met skenkings sodat sy dit vir dié wat dit nodig het, kan uitdeel. Indien jy ‘n bydrae wil maak, skakel Julyhanna gerus by 074 909 8323.

