Dankie vir my suurstofmasjien!
'Ek wens dit was nie nodig om mense te moet vra vir hulp nie maar hierdie is ‘n kwessie van oorlewing vir my'
Die 55-jarige Antionette Marais kan nou weer asemhaal nadat ‘n goedhartige maatskappy vir haar ‘n suurstofmasjien geskenk het.
Ek wens dit was nie nodig om mense te vra vir hulp nie maar hierdie is ‘n kwessie van oorlewing vir my,” het Antionette gesê toe sy die vorige keer met die News gesels het.
Sy is gediagnoseer met emfiseem en kon nie ‘n suurstofmasjien by ‘n staatshospitaal kry nie omdat sy steeds rook. Antionette kan egter nie ophou rook nie omdat haar liggaam nie sterk genoeg is vir die onttrekkingsimptome nie. Haar familie het in die week voordat die storie in die News verskyn het, haar suurstofbottels twee keer ‘n week laat hervul.
Lees die oorsproklike artikel hier: ‘n Kwessie van oorlewing
Antionette kry net ‘n klein staatspensioen en kon dit nie meer bekostig nie. Daarom het sy net suurstof gebruik wanneer sy glad nie meer kon asem kry nie. Ecomed Medical het egter die storie onder oë gekry en sommer dadelik besluit dat hulle vir Antionette wil help. Hulle het vir haar ‘n suurstofmasjien geborg, en sommer ook die suurstofsilinders hervul wat sy reeds gehad het.
Antionette kan die masjien gebruik totdat sy dit dit nie meer nodig het nie, en Ecomed het ook aangebied om haar suurstofsilinders te hervul wanneer dit nodig is. Sy vertel nou dat sy vir die eerste keer in ‘n lang ruk weer deur die nag kan slaap, en dat sy selfs kan opstaan en rondbeweeg omdat sy nie meer spaarsamig met die suurstof hoef te werk nie.
Die terugvoering op die storie was oorweldigend. Soveel mense het gebel om hul stories met ons te deel, en mense wat self nie baie het nie, het gebel en gevra hoe hulle kan help,” het Antionette vertel.
Al was sekere terugvoer nie goed nie, het Antionette vertel dat sy maar die sleg met die goed aanvaar, en bygevoeg dat sy nie baie rook nie en dat ‘n pakkie sigarette haar meer as drie dae hou. Sy het in trane vertel van ‘n vrou wat gebel het en gesê het sy lewe self van ‘n Sassa-pensioen maar wil graag R30 ‘n maand skenk om vir Antionette te help.
“Vir my het dit nooit gegaan oor geld vra nie, en hier kom die vrou en sy wil my help,” het ‘n bewoë Antionette vertel. Sonja Nel van Ecomed het gesê dat hulle die storie gelees het en dat hul maatskappy baie donasies doen.
“Ons direkteur, Greg de Freitas het met een tak begin en nou het ons 18 takke oor die land. Hy glo dat ‘n mens moet teruggee as jy ontvang,” het Sonja verduidelik. Ecomed Medical is betrokke by baie soortgelyke projekte reg oor die land.
Hulle is lieflike mense; jy kan sien dit is mense wat wil help en ander ondersteun. Hulle het my selfs moed ingepraat,” het Antionette van haar ervaring met Ecomed gesê.
Sy wil graag haar gemeenskap bedank vir elke donasie, elke oproep en elke boodskap van ondersteuning. Sy glo dat sy danksy almal se goedhartigheid nog meer tyd gekry het om saam met haar familie te spandeer.
