Bekende verkeersbeampte sterf na lang siekbed
Familie en vriende het onlangs 'n laaste keer die bekende verkeersbeampte, Hansie Noortman gegroet.
Die gemeenskap, vriende en familie van Hansie Noortman moes op 23 September van dié legende afskeid neem.
Hansie wat vir 11 jaar lank ‘n verkeersbeampte in Krugersdorp was, is op 14 September na ‘n lang siekbed oorlede. Met Krugersdorp in sy bloed is Hansie op 21 April 1967 hier gebore.
Volgens sy eksvrou Chrissie Strydom was dit altyd sy droom om ‘n verkeersbeampte te wees, en hy het ook elke jaar die prys vir die skoonste motorfiets gewen. Hansie en Chrissie het een dogter gehad en is na ‘n huwelik van 10 jaar geskei.
Hy is daarna Nelspruit toe waar hy as insleepvoertuigbestuurder gewerk het en nagenoeg 13 jaar gewoon het.

Drie jaar gelede het hy teruggekeer Krugersdorp toe en by sy suster Diane Noortman ingetrek. Chrissie het vertel dat Hansie ‘n getroue Blou Bul-ondersteuner was en ook ‘n groot liefde vir renmotors gehad het.
Hy het gereeld self op die Black Rock-renbaan gejaag. ‘n Begrafnisdiens is vir Hansie is vanuit die Ahava Life Church in Buitenstraat gehou waar vriende en familie finaal kon afskeid neem.

“Ek wil ook dankie sê vir sy sussie wat hom tot die einde so mooi bygestaan het,” het Chrissie gesê.
Hansie het twee dogters, waarvan die jongste vyf is en sy oudste, Melissa Noortman 25 jaar oud is. Chrissie het vertel dat Hansie nie ‘n begrafnispolis gehad het nie en dat die familie als uit hul eie sak moet betaal.
Hulle vra dat enigiemand wat kan help met fondse vir Chrissie kontak by 072 371 2035.
