Die Laksman – ‘n Film van een van ons dorp se eie
'n Gesprek om 'n huweliksonthaaltafel in Fochville het aanleiding gegee tot 'n kortfilm met bekende name in die rolprentbedryf.
Wanneer die inspirasie byt moet jy gryp en vashou want die geleentheid mag dalk nie weer oor jou pad kom nie.
Dit was die sentiment een aand om ‘n huweliksonthaaltafel in Fochville.
Curamus School for Autism-onderwyser, Coert Erasmus, het homself dié aand aan dieselfde tafel as rolprentkameraman Clarence Raymond bevind.
“Ek het hom gevra om vir my die films te wys waaraan hy gewerk het,” het Coert verduidelik. “Hy het gesê hy het nog niks van sy eie gemaak nie, maar het al op baie stelle gewerk.”

Later dié aand het Clarence genoem dat hy wel ‘n idee gehad het vir ‘n Afrikaanse kortfilm. Coert het toe die aand by hulle in Fochville oorgebly en is die Sondagoggend terug Krugersdorp toe.
“Ek het aanlyn geleer hoe om ‘n draaiboek te skryf, dadelik daarmee begin en die aand die eerste weergawe vir hom gestuur.”
Oor die volgende paar weke het hulle aan die kort draaiboek geskaaf, dele uitgehaal wat moeilik sou wees om te skiet, en seker gemaak die humor val nie plat nie.
“‘n Vriendin van Clarence, Liesel Harris-Kruger het dit ontvang. Ons het net ‘n kans gewaag en sy het gevra of sy dit kan regisseer.” Kort daarna het die draaiboek sy pad tot by Hannes Brümmer (bekend vir sy verhoogkomedies en rolle in films soos Ek Joke Net 2, Die Skandaal en Die Spreeus) en Neels Clasen (bekend vir Amerikaanse films en TV-programme Black Sails, Vagrant Queen en The Last Days of American Crime asook Stroomop, Droomdag en Raaiselkind) gevind. Die twee het ook onmiddellik ingestem, maar Coert en Clarence moes verduidelik dat hul begroting skaars groot genoeg was om dramastudente aan te stel vir die kortfilm. Dit het nie saak gemaak vir dié bekendes nie en die misdaadkomedie Die Laksman was op pad om gemaak te word.

Laastens moes die akteur vir die titelrol opgespoor word.
“Ons het weer ‘n kans gewaag en vir Reynardt Hugo (bekend vir sy rol as Tertius Jonker in Binnelanders, en sy rolle in Pretville en Vuil Wasgoed) gevra. Hy het net gevra wanneer ons wou skiet en het ingestem.”
Coert het verduidelik dat hulle die film oor een van die koudste naweke in Julie 2019 in ‘n groot skuur in Fochville geskiet het. Na 15 uur voor die kamera wat oor twee dae gestrek het, was hulle klaar. Vandaar moes die 10-minute kortfilm aanmekaar gesit word.

Aangesien die huidige pandemie meeste filmkompetisies in die wiele gery het, het die twee filmmakers besluit om Die Laksman op 11 Oktober aanlyn vry te stel. Kaartjies kos R70 elk.
Om die première meer van ‘n belewenis te maak het die twee besluit om Die Laksman saam met ‘n komedie-uurfilm te vertoon en vir Hannes en Schalk Bezuidenhout betrek by ‘n opname in Krugersdorp. Die geleentheid is toe Twee Komediante en ‘n Kortfilm genoem.
Kyk hier na die voorskou van Twee Komediante en ‘n Kortfilm: https://www.facebook.com/TweeKomediante/videos/365515411269125
