NewsSchools

‘Ons is reg vir ‘n groot jaar ten spyte van Covid, waterskade’

Covid-19 en waterskade skrik Monnas se personeel, ouers en leerders nie af nie en hulle gaan die beste van hul Eeufeesjaar maak.

Ten spyte van die waterskade weens die swaar Nuwejaarsdag-reën en Covid-19 wat steeds hier is en veroorsaak het dat die begin van die nuwe skooljaar uitgestel moes word, is Monnas se leerders, personeel en ouers baie positief om steeds van 2021 ‘n groot jaar te maak.

Johann Calitz, die skoolhoof het verduidelik dat die dam vir die tweede keer in sewe jaar sy walle oorstroom het en dat hul skoolperseel daaronder deurgeloop het. Skade is aan die skoolgebou en infrastruktuur veroorsaak.

“Dit gaan ‘n hele ruk duur om alles weer in plek te kry, aangesien van die omheinings, tennis- en netbalbane, die swembad en gedeeltes van die rugby- en atletiekstadion vervang moet word of groot herstelwerk gaan vereis,” het hy verduidelik.

Die skool is egter in gesprek met hul versekeraar oor die herstelwerk en sal ook met die munisipaliteit skakel aangesien die versekering moontlik nie al die skade gaan dek nie.

“Monnas is dankbaar vir al die hulp wat van skole in die omgewing, ons ouers en leerders asook lede van die gemeenskap ontvang is met die eerste opruiming. Die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) was baie paraat en van groot hulp.”

Dis is ook vanjaar Monnas se Eeufeesjaar en op 1 Februarie is hulle amptelik 100 jaar oud.

“As gevolg van Covid-19 moet alle feesvieringe en aktiwiteite eers op die langebaan geskuif word. Daar word egter beplan om later in die jaar, soos wat dinge hopelik verbeter, voort te gaan met ons feesprogram,” het hy gesê.

Monumentare sal op hoogte gehou word van hierdie planne.

Hulle fokus nou eers op hul leerders, en Calitz het gesê dat hulle personeel gereed is om die jaar aan te pak saam met die Monumentare.

“Daar word gekonsentreer op die uitdeel van handboeke en skrifte, die afskop van die akademie en om elke leerder by te staan. Vir ons nuwe Graad 8’s word ‘n spesiale program beplan – iets om na uit te sien!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button