Charles Miller, Laerskool Krugersdorp-Noord se hoof verseker ouers dat die skool gereed is om leerders veilig terug te verwelkom in Februarie.
“Dit is baie belangrik vir kinders se sosiale ontwikkeling om in groepe te funksioneer en deelnemende leer toe te pas. Aanlynonderrig is nie altyd beskikbaar vir alle leerders nie weens finansiële omstandighede. Leer vind plaas deur alle sintuie te gebruik. Aanlynonderrig is onpersoonlik en nie die werklike weergawe van leer nie.
“Noordskool het alreeds in 2020 alle gesondheidsmaatreëls in plek gestel. Ons is gereed om leerders te ontvang deur middel van werksame planne en toepassing van veiligheidsmaatreëls soos deur die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) bepaal.
“Leerders is in twee groepe verdeel per klas, en kom elke tweede dag skool toe. Die resultaat is ‘n maksimum van 10 tot 16 leerders per klas. Met die aangepaste leerplanne sal ons die kurrikulum voltooi en natuurlik stap Noordskool altyd die ekstra myl om te sorg dat daar ekstra werk vir verryking en remediëring sal wees.”
Miller het laastens gesê, “Ons sien uit na ons 2021-skooljaar en kan nie wag om ons leerders terug te verwelkom nie.”
