Gevaarlike kragkabel: Kind word geskok in Krugersdorp-Wes
Die gemeenskap van Alderstraat in Krugersdorp-Wes was geskok omdat hulle meer as ses uur moes wag dat 'n lewendige kabel wat gebreek en op die sypaadjie gelê het, herstel word. 'n Kind is deur die kabel geskok.
Justice Malherbe, ‘n ontstoke inwoner van Alderstraat in Krugersdorp-Wes het die News om en by 8nm op 16 Januarie geskakel om te vra vir hulp. Teen daardie tyd het die gemeenskap reeds van 2nm wag gehou by ‘n elektriese kabel wat tydens ‘n reënbui afgebreek het.
Hy het vertel dat die kabel om 2nm die Saterdag gebreek het en op die nat sypaadjie beland het. Hy, sy familie en ander bure het dié dag probeer om ‘n ogie hou oor die kinders wat gereeld buite en in die straat speel.
Twee honde wat in die straat geloop het, asook ‘n sewejarige seun wat geval het, is deur die kabel geskok. Gelukkig is die kind en die honde ongedeerd, maar teen 8nm was die gemeenskap siek en sat gewag dat die gevaarlike kabel herstel word.
Malherbe het vertel dat hulle die kabel vier keer deur die loop van die dag aangemeld het, maar dat die Mogale City-elektrisiëns eers teen 8.34nm opgedaag het om die kabel te kom regmaak.
Ons het die elektriese stroom gemeet, en dit was tussen 170 en 190 volt deur die dag,” het hy gesê.
Dit was egter nie die eerste keer dat die elektriese kabel in hul straat probleme gee nie. “Wanneer dit onweer is, is daar vonke op party van die drade. Hierdie kabels word nie in stand gehou nie.”

Die News het by die munisipaliteit navraag gedoen om te probeer vasstel waarom dit so lank geneem het voordat hierdie herstelwerk gedoen is.
Given Masuku, die bestuurder van energiedienste by die munisipaliteit het gereageer deur te sê dat terwyl kwaliteitdiens die munisipaliteit se hooffokus is, het Mogale City ook ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat die werksomgewing veilig is en minimale risiko vir hul werknemers inhou.
As gevolg hiervan en ook die Vlak 3-regulasies is ‘n skofrotasiesisteem ingestel om minimale kontak tussen werkers te verseker. Dit het beteken dat die energiedienste, soos die ander afdelings in die munisipaliteit, ‘n beperkte aantal werkers per skof het om die Covid-19 maatreëls na te kom.
Masuku het gesê selfs met hierdie beperkings het die energiedienste steeds dienste aan hul kliënte verskaf, maar as gevolg van die beperkte personeel reageer hulle net stadiger.
Daar is volgens Masuku op 16 Januarie ook 25 ander elektrisiteitsverwante klagtes aangemeld. Hul werknemers se gesondheid en veiligheid moet egter in ag geneem word, dus kan hul elektrisiëns nie in die reën aan lewendige drade werk nie.
Hulle mag slegs die foutiewe lyn afsonder totdat dit veilig is om die krag na kliënte te herstel,” het Masuku gesê en bygevoeg dat die wagtydperk aanvaarbaar was, selfs al probeer hulle deurentyd om die reaksietyd te verbeter.
Inwoners word aangeraai om alle elektriese kabels altyd as lewendig te beskou, en nie daaraan te raak as hulle nie gekwalifiseerd is om dit te doen nie.
Masuku het sy spyt uitgespreek omdat ‘n kind ‘n skok opgedoen het, en beklemtoon dat sulke kabels met ekstra versigtigheid hanteer moet word en dat veral kinders daarvan moet wegbly.
Indien iemand in so ‘n geval ‘n ernstige besering sou opdoen, kan inwoners Mogale City skakel sodat die skade, aanspreeklikheid en bystand geassesseer kan word indien nodig.
