Wouter Immelman, hoof van Laerskool Kenmare het verduidelik hoekom die skool gereed en gretig is om weer teen volle kapasiteit in Februarie te open.
“In-persoononderrig sal altyd die voorkeurmetode wees. Die leerders beleef die stemtoon, gesigsuitdrukking, aksente op dele van die werk in werklike tyd en as hulle ‘n hand opsteek sal die onderwyser dadelik kan help en aandag gee aan die probleem.
“Ons het vir 2021 enkelbanke aangekoop vir elke leerder. Dit maak dit nog veiliger vir leerders om tydens klastyd hul voorgeskrewe persoonlike afstande te handhaaf. Ons is van mening dat ons kinders beslis baie veilig sal wees, aangesien daar ‘n moniteringsisteem is waarvolgens hul optrede daagliks gemonitor word en ingryping plaasvind wanneer daar van voorgeskrewe regulasies afgewyk word.
“Wanneer leerders by die skool aanmeld word hul koors geneem, bepaalde Covid-19 vrae word gevra en hierna word die leerders tot die klas toegelaat.”
Indien ‘n leerder se koors te hoog is […] word hy/ sy na die Covid-19 kamer geneem en die koors word weer na 10 minute geneem.
“Wanneer ons leerders aan die einde van die dag huis toe gaan, word hul temperatuurlesing weer geneem. Kenmare beplan nie ‘n verhoogde tempo van kurrikulumaanbieding nie, maar sal beslis proaktief optree indien omstandighede so verander dat ingryping nodig is.
“As gevolg van die voordeel van enkelbanke per klas beplan Kenmare om op 15 Februarie al ons leerders by die skool terug te verwelkom.”
