NewsSchools

Norie-toneel beplan groot dinge

'n Paar junior Hoërskool Noordheuwel-leerders het reeds vroeg in die jaar begin oefen aan toneelstukke ter voorbereiding vir tienertoneelkompetisies.

Norie-toneel is groot en daar is reeds ‘n paar weke voor die nuwe skooljaar amptelik begin het, daarvoor begin voorberei. Dit beloof om vanjaar nog meer besonder te wees.

By Hoërskool Noordheuwel kan Drama eers in Graad 10 as vak gekies word maar die pad na beroemdheid begin al vroeg. Om dié rede het ‘n paar onderwysers besluit om vir Graad 8- en 9-leerders ‘n tipe buitemuurse toneelklas aan te bied en hulle voor te berei vir toneelkompetisies soos RACA Eisteddfod, ATKV-Tienertoneel en interskoolopvoerings.

KYK HIER: Nories oefen hul improvisasietegnieke: 

Onderwysers Tayla Minnaar en Nicole Tolman het verlede jaar twee rondtes oudisies vir die Graad 8’s gehou om tienertoneelgroepe te vorm. Vanjaar oefen die Graad 9’s buite skooltyd.

Leerders Handro Smith, Kayla Wolmarans, Chanté Nunes en Nina Guy het op Dinsdag, 9 Februarie van 5nm tot 8nm hul tweede les van die jaar by Tayla in ‘n klaskamer by die skool gehad.

Na die eerste paar minute van duidelike ongemak en skaamheid het die jongklomp gou uit hul kassies geklim en oor-dramaties saam deur ‘n aantal improvisasietonele gewerk.

Handro Smith oefen sy toneelspel met ekstra selfvertroue. Foto: Jaco Human.

Elke paartjie het ongeveer 30 sekondes gehad om ‘n fiktiewe situasie voor hulle maats en onderwysers uit te beeld. Tayla het op interessante oomblikke ‘pause’ geroep, en een van die twee leerders met ‘n ander vervang wat in daardie leerder se plek met ‘n nuwe toneel moes begin.

Nina het ‘n bakker in haar eie winkel vertolk, terwyl Chanté onverwags as kliënt ‘n vloermoer moes gooi en sê, “Ek gaan my ma Karen vertel,” wat na ‘n bekende internetmeem verwys. Chanté is gou deur Handro vervang wat hardop begin huil het omdat hy sy toon gestamp het, maar Nina wou hom geen simpatie bied nie. Sy is deur Kayla vervang wat met Handro begin stry het en hom probeer oorreed het om uit die rowwe see en uit die warm son te kom.

Nina Guy wys haar houding gedurend toneel oefening. Foto: Jaco Human.

In die sowat halfuur wat dit geduur het, het elkeen so hard moontlik probeer om die ander spelers onkant te vang met ‘n onverwagte grap of deur ‘n absurde situasie voor te stel.

Handro is onseker of hy toneelspel as ‘n loopbaan sal volg maar, “Ek hou baie van drama en doen dit al van kleins af. Ek was al in ‘n paar opvoerings.”

Kayla het verduidelik dat sy op ‘n jong ouderdom reeds ‘n baie lae selfbeeld gehad het.

Kayla Wolmarans toon haar dramatiese sy. Foto: Jaco Human.

“Ek wou regtig nie drama doen nie maar my ma het gevra ek moet dit net een keer probeer. Ek het dit in Graad 3 gedoen en dit net ge-love.” Sy sal graag eendag ‘n aktrise wil word en geniet vir nou hul opleiding na skool.

“Ek het altyd gedink net die weird kinders doen dit. Ek het dit vir die groentjiekonsert probeer en so baie vriende gemaak. Ek het besef dis glad nie net vir weird kinders nie.”

Sy het ook genoem dat as sy nie ‘n aktrise kan wees nie, sal sy ‘n voltydse motiveringspreker wil word.

Nina het vertel dat haar hele familie groot belangstelling in drama toon. “My ouma was ‘n baie goeie dramajuffrou in die dorp, en my niggie, Mila Guy, het al in baie kykNET-programme verskyn. Ek hou nogal van drama maar ek is nog nie seker of ek dit voltyds wil doen nie.”

Handro Smith oefen sy toneelspel met ekstra selfvertroue. Foto: Jaco Human.

Tayla het verduidelik dat sy die groep wil voorberei vir seniortoneel en reeds ‘n paar aanlynvideo-oefensessies met hulle gehou het. Na die improvisasie-oefening het sy hul eerste volledige toneelstuk met hulle begin bespreek en karakterontwikkeling verduidelik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Krugersdorp News in Google News and Top Stories.

Back to top button