Die Nories is opgewonde om terug te wees by die skool. Dit gaan ‘n vreemde jaar wees, veral vir die Graad 8’s, aangesien hulle binne die afsienbare toekoms nie met ‘n hele helfte van hul graadgroep by die skool te doen gaan kry nie.
Met grendeltydregulasies wat geld en Hoërskool Noordheuwel wat ekstra versigtig is, beteken dit dat die een helfte van die leerders die een dag sal skoolgaan, en die ander helfte die volgende dag. Die matrieks sal wel weer elke dag skoolgaan.

Op die sogenaamde ‘afdag’ moet die leerders hul skoolwerk aanlyn doen om te verseker dat hulle bybly met die kurrikulum.
Hierdie jong klomp kon nietemin nie wag om by die skool te kom nie. Die ekstra lang vakansie was net een te veel vir die meeste Nories, hoewel die werkendes onder ons wat sou wou gee vir so ‘n lang blaaskans. Hulle het nie net daarna uitgesien om hul vriende weer by die skool te sien nie, maar ook om aan die gang te kom met hul studies.

Hierdie jaar se Graad 8’s staan as die Norie Seerowers bekend en hulle moes op hul eerste amptelike skooldag dag daardie tema op ‘n manier uitbeeld. Hul naam pas in by die skool se 2021-tema, Volg die Norie Golf.
“Ons hou van hoë golwe,” het Norie-bemarker Sonet Guy vertel. “Ons ry op hoë golwe en hou nie daarvan om in die vlakwater te speel nie. Soms is daar rowwe golwe, maar Nories kom altyd weer bo uit!”

Die Graad 8’s moes vir die res van die eerste twee weke hul kleurvolle, handgemaakte papegaaipoppe by hulle dra.
Die onderwysers was ook bly om hul leerders terug te verwelkom en het reeds die eerste dag begin klasgee.
Dit sal altyd beter wees om kinders by die skool te hê en in persoon klas te gee. Niks kan ooit die persoonlike kontak tussen onderwyser en leerling vervang nie. Leerders het ook nodig om tussen maats te beweeg, om ook sosiale vaardighede te ontwikkel,” het Dawie Kriel, Noordheuwel-hoof gesê.
