Dit was ‘n dag vol pret vir die leerders van Laerskool Krugersdorp-Noord toe hulle op die pawiljoen bymekaargekom het, maskers en al en ‘n meter of so uitmekaar.
Dié dag het hul eenvoudige maskers wat hulle in die klas dra en waaraan almal al gewoond geraak het, plek gemaak vir kleurvolle, versierde maskers. ‘n Hele klomp het ‘n duidelike tema gevolg; iets te doen met ‘n arend, wat natuurlik al die jare op Noordskool se skoolwapen pryk.

Norie-gelukbringer Arri die Arend het boonop op 26 Maart agt oud geword, wat tegnies beteken dat Arri nou ‘n middeljarige arend is.
Leerders moes geduldig wag om te hoor of Arri by die skool sou kon invlieg, soos beplan. ‘n Onverwagte wolkbreuk het veroorsaak dat Arri vir so ‘n halfuur op die grond moes bly voor hy veilig kon opstyg.
Kyk hier:
Uiteindelik het die gedreun van ‘n helikopter in die verte aangedui dat Arri sy vlerke gevind het en na die skool se sportveld op pad was. Dieter Bock van Bock Industries het dié dag vir die skool ‘n helikoptervlug geborg.
Toe hy land is Arri deur sy gunstelinglied, Shakira se Waka Waka begroet. Die Graad 7-leiers het gou by hom aangesluit en het van die een kant van die paviljoen na die ander kant voor die juigende skare verbygedans.

Die beste tuisgemaakte maskers is uit elke klas gekies, en agt junior en nege senior finaliste het by Arri op die veld gaan staan sodat hy die beste maskers uit onderskeidelik die junior seuns en dogters, en die senior seuns en dogters kon aanwys.

Wenner Raynique Olivier het sy olifantmasker kompleet met groot pienk ore en ‘n slurp met trots gedra. Albert Steward is deur Arrie geïnspireer en hy het ‘n groen-en-oranje geveerde masker gemaak. Eriné Grobler het ook ‘n veremasker gedra, maar met ‘n swart en maroen motief. Jandry Byliefeldt het ‘n groot geel tuisgemaakte snawel gedra. Al vier wenners het ‘n pakkie lekkernye ontvang.

